Nuus 11:00
BULLETIN 17 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile loof Festus Mogae as ‘n kampvegter vir goeie regering
# Die DA vra ‘n SOE-ondersoek na beweerde bedrog van twee-miljard-rand in Ekurhuleni
# En sokker: Bafana pak Nicaragua in ‘n vaarwelwedstryd voor die Wêreldbeker
# Adjunkpresident Paul Mashatile het hulde gebring aan voormalige president Festus Mogae, as ‘n vooraanstaande leier wie se visie die demokrasie in Botswana versterk het. Mashatile het in Gaborone tydens Mogae se staatsbegrafnis gepraat en die oorlede president geloof vir die land se gevorderde ekonomiese bestendigheid, en as ‘n voorbeeld vir Afrika in die stryd teen MIV/VIGS. Mashatile sê Mogae se nalatenskap het streeksamewerking en ekonomiese bestendigheid versterk. Hy het gevra vir voortgesette eenheid en samewerking om Mogae se bydrae tot die vasteland te vereer.
# Polisie het twee vroue in hegtenis geneem wat verbind word met ‘n wydverspreide sosialemedia-video wat die roekelose hantering van ongelisensieerde vuurwapens in Midrand wys. Die verdagtes van Ebony Park is in Kaalfontein in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n voertuig waarin hulle was, onderskep het. Hulle word by die Tembisa-Suid-polisiestasie aangehou. Die arrestasies volg na die aanhouding van twee mans wat met die vuurwapen in die video verbind word. Die mans staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en ‘n gekaapte voertuig. Hulle sal hierdie week in die hof verskyn.
# Die DA se parlementêre leier George Michalakis vra dat die Spesiale Ondersoekeenheid moet kyk na beweerde kuberbedrog in die Stad Ekurhuleni. Michalakis sê berigte dui daarop dat kuberkrakers, wat na bewering met amptenare saamgewerk het, toegang tot munisipale elektrisiteitsfaktuurstelsels verkry het en skuld uitgewis of gewysig het, wat ‘n inkomste tekort van meer as twee-miljard-rand veroorsaak het. Hy waarsku dat die beweerde oortredings en moontlike korrupsie dienslewering ernstig kan raak en oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur kan behels.
# Die Inkatha Vryheidsparty in Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Mlungisi Mabaso, sê die party wil Johannesburg herstel tot ‘n stad waarop inwoners trots kan wees. Mabaso sê plaaslike regerings moet fokus op werkskepping en ekonomiese geleenthede om afhanklikheid van regeringsondersteuning te verminder. Mabaso het ook beloof om dissipline, dienslewering en skoon bestuur in die stad te herstel, omdat dit eerlike leierskap prioritiseer:
# Sokker: Sokker: Manchester City het Chelsea met 1-0 op Wembley geklop om die FA-beker. Dit is die span se agtste FA-beker-titel en hulle afrigter Pep Guardiola se derde een in die kompetisie. Antoine Semenyo het die wendoel aangeteken met ‘n uitstekende hakskop na ‘n kruis-aangee deur Erling Haaland. Chelsea het toe alles uitgehaal om die telling gelyk te maak, met Moises Caicedo en Enzo Fernandez wat sonder enige welslae probeer het. Guardiola wat sy 20ste groot trofee as afrigter vier, het die span geprys:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het bevestig dat Bafana Bafana op 29 Mei teen Nicaragua se nasionale sokkerspan in ‘n afskeidswedstryd in die Orlando-stadion te staan sal kom. Afrigter Hugo Broos het Nicaragua gekies om die groep voor te berei vir die Konfederasie van Noord-, Sentraal-Amerika en Karibiese Eilande se sokkerstyl wat hulle teen mede-gasheerland Mexiko verwag. Suid-Afrika en Mexiko pak mekaar in die openingswedstryd van die 2026 FIFA Wêreldbeker-toernooi by die ikoniese Estadio Azteca.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….