Nuus 11:00
BULLETIN 3 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Unmuted Coalition South Africa is bekommerd oor die Madlanga-kommissie se befondsingstekort
# Die eerste besending Suid-Afrikaanse appels is op pad na kleinhandelmarkte in China
# En motorsport, die tiener F1-voorloper Kimi Antonelli spring eerste weg in Miami, met die wedren wat nou vroeër begin
# Die Unmuted Coalition South Africa het die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling versoek om te verseker dat daar genoeg befondsing is vir die Madlanga-kommissie. Dit volg op berigte dat die departement se befondsingstekort die kommissie se vordering met die ondersoek na korrupsie en politieke inmenging in die polisie bedreig. Die voorsitter Cynthia Chishimba waarsku die staking van die kommissie se werk sal ‘n negatiewe boodskap stuur oor die regering se verbintenis tot geregtigheid. Die kommissie sal na verwagting binnekort belangrike bevindinge bekend maak, met sy verwagte voltooiing in Augustus.
# ‘n Besending van 24 ton Suid-Afrikaanse appels wat in Shenzhen onder China se nuwe nultariefbeleid uitgeklaar is, is op pad na kleinhandelmarkte en sal mededingendheid bevorder. Die tariefbeleid is van vandeesmaand van toepassing en eindig in April 2028. Dit brei belastingvrye toegang uit na 53 van die 54 Afrikalande, met die doel om meer as net minerale uit te voer. Eswatini is uitgesluit weens sy bande met Taiwan. David Monyae van die Universiteit van Johannesburg sê die stap skep geleenthede vir hoërwaarde-landbougoedere en stel Afrika-ekonomieë in staat om uit te brei na een van die wêreld se grootste verbruikersmarkte.
Kenners van internasionale betrekkinge meen intussen Eswatini se uitsluiting van die ooreenkoms kan polities gemotiveerd wees weens sy bande met Taiwan. Eswatini is die enigste Afrikaland wat uitgesluit is van die plan vir Afrika-uitvoere. Die beleid dek 53 nasies met diplomatieke bande met Beijing. ‘n Politieke wetenskaplike aan die Australiese Nasionale Universiteit se Taiwan-sentrum, Wen-Ti Sung, sê deur Eswatini te ignoreer gebruik China sy bande as ‘n wapen. China beskou Taiwan as ‘n wegbreekprovinsie, en kritici meen die besluit weerspieël strategiese diplomasie met voorwaardes.
# Die One Merafong Organisation berei ‘n regsgeding teen die Gautengse regering voor oor vertragings met die hantering van die asbeskrisis. Sekretaris-generaal Buti Mthembu van die burgerlike beweging sê ondernemings wat in 2014 gegee is, is nie nagekom nie. Die Gautengse LUR vir Menslike Nedersettings, Tasneem Motara, het aan SABC News gesê die verwyderingsprojek is weens befondsingsbeperkings gestaak. Sy sê huidige toelaes dek slegs dakverwydering, nie hervestiging of herstelwerk nie, aangesien besprekings steeds aan die gang is om die probleme ook op te los:
# Motorsport: Mercedes se kampioenskapsvoorloper, die tiener Kimi Antonelli, het gister die voorste wegspringplek vir die Miami Grand Prix ingepalm. Die wedren se begintyd is intussen met drie uur vervroeg weens verwagte swaar reënstorms. Die 19-jarige Italianer is die jongste kampioenskapsvoorloper in die geskiedenis van Formule Een. Hy het ‘n laat aanslag deur die viermalige kampioen Max Verstappen oorleef, wat langs hom sal wegspring. Dit is Antonelli se derde voorste wegspringplek in drie agtereenvolgende wedrenne. Die prestasie plaas hom saam met die groot voormalige kampioene Ayrton Senna en Michael Schumacher in die rekordboeke.
# En sokker, Durban City FC is as die 2026 Nedbankbeker-kampioene gekroon met prysgeld van sewe-miljoen-rand na ‘n 2-1 oorwinning oor TS Galaxy by die nuwe Peter Mokaba-stadion in Polokwane, Limpopo. Mfanafuthi Mkhize het die telling in die tweede helfte gelyk gemaak voordat Jean Lwamba die wendoel aangeteken en vergoed het vir ‘n vroeëre eiedoel. Dit is die klub se eerste groot trofee en bring ‘n einde aan KwaZulu-Natal se 17 jaar lange droogte. Die tussentydse afrigter Pitso Dladla het die span geprys vir hul harde werk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….