Nuus 11:00
BULLETIN 18 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# FlySafair sny verskeie roetes weens stygende brandstofkoste en ‘n laer aanvraag
# Eskom sê die gure weer verhoog die aanvraag
# En rugby: Die Springbok-skrumskakel Morné van den Berg is terug in die Leeus se span na ‘n besering
# Suid-Afrika se grootste binnelandse lugredery, FlySafair, is gedwing om verskeie roetes te sny weens stygende stralerbrandstofkoste en laer passasiersvraag. Hy gaan voort om sy netwerk te hersien. Die lugredery se hoofbemarkingsbeampte, Kirby Gordon, sê hulle verwag tans nie groot netwerkbesnoeiings nie, maar kan nie bekostig om nie-winsgewende roetes te bedryf nie. News24 berig hoewel die wêreldwye olieprys dié week effens gedaal het, is die prys van stralerbrandstof steeds byna dubbel sedert die Midde-Oosterse konflik begin het.
# Die ANC-Vroueliga het die Regterlike Dienskommissie se besluit verwelkom om die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge, skuldig te bevind aan growwe wangedrag, wat ‘n staat van beskuldiging en uitsetting moontlik maak. Die sekretaris-generaal, Nokuthula Nqaba, sê die skuldigbevinding volg nadat hy daarvan beskuldig is dat hy tussen 2021 en ’22 ‘n junior personeellid seksueel geteister het. Sy sê die liga was nog altyd aan die kant van die slagoffer.
# Eskom sê hy ervaar ‘n verhoogde vraag na krag as gevolg van gure weerstoestande. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir donderstorms met swaar reënbuie en skadelike wind in dele van die land tot Maandag. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle gaan voort om betroubare en veerkragtige elektrisiteitsvoorsiening te lewer, ondersteun deur versterkte opwekkingsprestasie, verhoogde beskikbare vermoë en ‘n vermindering in die afhanklikheid van noodopwekking:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het die wysiging van ‘n regulasie in die Wet op Verbruikersbeskerming verwelkom om strooipos-oproepe te beperk. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het dit in die Staatskoerant gepubliseer. Woordvoerder Phetho Ntaba sê die gewysigde regulasies vestig ‘n uitsluitings-registerstelsel en bied meganismes vir verbruikers om ongewenste regstreekse bemarking te kanselleer. Sy sê alle regstreekse bemarkers moet registreer om nakoming te verseker:
# Rugby: Die Springbok-skrumskakel Morné van den Berg is terug vir die Leeus in vandag se Verenigde Ruygbykampioenskaps-wedstryd op Ellispark teen Glasgow Warriors, wat boaan die punteleer is. Hy is amper ‘n maand gelede teen Edinburgh beseer. Die voormalige Blitsbok-ster JC Pretorius is ook terug en op die bank. Die Leeus is tans vyfde op die punteleer met drie groepwedstryde oor na vandag, en het steeds ‘n goeie kans om onder die top-agt te eindig en vir die kwarteindronde te kwalifiseer.
# En ten slotte: Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, het ‘n verstommende 41 nuwe navorsingsleerstoele bekendgestel. Die departement het die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-program in 2006 gevestig. Nzimande sê die program wil uitnemendheid in navorsing en vernuwing by Suid-Afrikaanse openbare universiteite lok en behou deur navorsingsgeleenthede met ‘n beleggingstrajek van tot 15 jaar te vestig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….