Nuus 09:00
BULLETIN 18 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mshaba sê Meyer se aanstelling ontbloot Ramaphosa se beheptheid met wit nasionaliste
# Eskom sê die voortgesette vermindering in dieseluitgawes is ’n bewys van operasionele verbeterings
# En rugby: Die Blitsbokke herstel om Hongkong se kwarteindronde te haal
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê die voormalige Nasionale Party-politikus Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika ontbloot die omvang van president Cyril Ramaphosa se beheptheid met toenadering tot wit nasionaliste. Woordvoerder Omogolo Taunyane sê dis skandelik dat so ‘n strategiese aanstelling vir die land se internasionale beeld by ‘n 78-jarige afdwinger van apartheid moet berus. Sy verwelkom die sterk teenkanting van patriotiese Suid-Afrikaners teen die aanstelling:
# Eskom sê die voortgesette afname in dieseluitgawes dui op kostebesparings en operasionele verbeterings wat deur sy aanhoudende omkeerpogings behaal is. Woordvoerder Daphne Mokwena sê sedert die begin van hierdie maand is dieseluitgawes 172-miljoen-rand, aansienlik laer as die 1,68-miljard-rand vir dieselfde tydperk verlede jaar. Dit weerspieël ‘n jaar-op-jaar daling van 89,76-persent. Mokwena sê oor die algemeen bevestig die positiewe neiging die groeiende bestendigheid en doeltreffendheid van die kragstelsel:
# Die Durbanse streekhof in KwaZulu-Natal het ‘n klaringsagent se direkteur, Rubishen Munsamy, gevonnis na hy skuld erken het op 14 aanklagte van bedrog wat met doeaneregte verband hou. Hy het invoerdokumente verander wat tussen 2018 en 2019 by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingedien is, wat ‘n verlies van ongeveer 15-miljoen-rand tot gevolg gehad het. Die Valke se streekwoordvoerder, Simphiwe Mhlongo, sê Munsamy is ‘n opgeskorte tronkstraf en korrektiewe toesig opgelê, terwyl sy maatskappy ‘n boete van 500-duisend-rand opgelê is, ook opgeskort op voorwaarde van geen verdere oortredings nie.
Nuus uit die buiteland:
# Die Global Sumud-flottielje beweer duisende Palestyne, insluitend minderjariges, word in Israelse gevangenisse aangehou met baie wat sonder aanklag onder administratiewe aanhouding daar is. Die organisasie sê gevangenes word aan strawwe toestande en wydverspreide menseregteskendings onderwerp. Firoza Mayet van die groep vra internasionale ingryping, insluitend druk deur die Verenigde Nasies, sanksies en verantwoordingsmaatreëls teen Israel.
# En ten slotte, rugby-nuus:
# Die Blitsbokke het deurgedring na die kwarteindronde van die Hongkongse sewestoernooi danksy ‘n oortuigende oorwinning oor die verdedigende kampioen, Argentinië, in hulle laaste groepswedstryd. Suid-Afrika het gister gemengde uitslae gehad toe hulle gesukkel het om die onbesonge Uruguay te klop voor Spanje hulle 31-12 afgeransel het. Hulle het egter vandag teruggeveg en Argentinië 38-0 geklop. Hul segetog het ‘n hupstoot gekry toe die Argentyn, Martiniano Arrieta, met ‘n rooikaart afgestuur is vir ‘n boorvat op Zain Davids. Argentinië het ook vir die kwarteindronde gekwalifiseer.
# En die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu sal die Stormers se nommer tien-trui dra in vandag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Kaapstad teen Connacht van Ierland. Dit sal ‘n emosionele geleentheid wees vir die gashere, wat hul oorlede bestuurder, Chippie Solomon, sal herdenk en ook afskeid neem van die veteraan-haker Scarra Ntubeni, wat waarskynlik sy laaste tuiswedstryd sal speel voordat hy uittree. Die Stormers is tans tweede op die punteleer na Glasgow Warriors van Skotland, en het ‘n goeie kans om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….