Nuus 11:00
BULLETIN 3 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kodwa sê sy department het hulp aan die Suid-Afrikaanse Boksfederasie verleen
# Motorsport: Wolff sê hy koester geen wrok oor Hamilton se skuif na Ferrari nie
# En, bene wat in Duitsland ontdek is kan die geskiedenis van die mensdom in Europa verander
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, sê sy departement het hulp aan die Suid-Afrikaanse Boksfederasie verleen sodat hy sy noodsaaklike finansiële verpligtings kan nakom. Hy wil verseker die administrasie en bestuur van boks word genormaliseer. Die departement se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Kodwa het kennis geneem van briewe wat die Nasionale Vereniging van Beroepsbokspromoters se regsverteenwoordigers aan president Cyril Ramaphosa en die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqukala gerig het:
# Die Stad Kaapstad het ‘n afvaardiging van die Wêreldbank by die stad se unieke Steenbras-hidro-pomp-opgaarskema verwelkom met die oog op die versterking van hulle vennootskap. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê ‘n groot belegging in die Steenbras-skema word beplan en is aan die gang. Die Wêreldbank steun die stad met geteikende tegniese hulp aan verskeie direktorate, insluitend energie, toekomsbeplanning, veerkragtigheid, en water en sanitasie:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die drie lisensies uitgereik wat benodig word vir die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika, om kragtens die betstaande Wet op die Regulering van Elektrisiteit werksaam te kan wees. Dié lisensies dek transmissie, handel en invoer-en uitvoer-bedrywighede. Die transmissielisensie laat die onderneming toe om die transmissie-instelling as ‘n Transmissienetwerk-diensverskaffer en Stelseloperateur te bedryf. Die handels- en invoer- en uitvoer-lisensies stel hom in staat om met kragopwekkers by handelsbedrywighede betrokke te raak en aan streeks-in en uitvoerbedrywighede deel te neem. Bedrywighede is geskeduleer om op 1 April te begin.
# Motorsport: Die spanhoof van die Mercedes Formule Een-span, Toto Wolff, sê die skuif aanstaande jaar van die Britse renjaer, Lewis Hamilton, na Ferrari, het nie as ‘n verrassing gekom nie en hy koester geen wrok nie. Die Duitse span het gister bevestig die sewemalige kampioen sal aan die einde van die seisoen sy tasse pak om die Spaanse renjaer, Carlos Sainz, by Scuderia te vervang. Volgens Wolff het die aard van die kontrakverlenging wat Hamilton in Augustus verlede jaar onderteken het, geen twyfel gelaat dat die vennootskap van 12 jaar tot ʼn einde sou kom nie. Hy aanvaar Hamilton se verduideliking dat hy ʼn ander omgewing nodig het.
# En om mee af te sluit: Mikroskopiese fragmente van proteïne en DNS van bene wat in ‘n grot, agt meter diep, ontdek is, toon Neandertals en moderne mense het waarskynlik 45-duisend jaar gelede langs mekaar in Noord-Europa geleef. Die genetiese ontleding van die fossiele, wat naby die dorp Ranis ontdek is, dui daarop dat moderne mense die skeppers was van kenmerkende blaarvormige werktuie wat argeoloë voorheen geglo het deur Neandertals gemaak is. Dit was nie voorheen bekend dat moderne mense, of homo sapiens, so ver noord in die streek gewoon het waar die werktuie gemaak is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….