Nuus 09:00
BULLETIN 19 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela verwelkom die Openbare Beskermer se bevindinge
# Cosatu ondersteun die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy
# En, die voormalige Oekraïense minister van Verdediging vra vir ‘n presidensiële verkiesing in oorlogstyd
# Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, verwelkom die Openbare Beskermer se bevindings oor sistemiese ondoeltreffendheid by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Volgens die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, se verdoemende verslag is 40-duisend kwalifiserende studente nie befonds nie, ten spyte van drie-miljard-rand wat tussen 2024 en 2027 vir die sogenaamde vermiste middelgroep bedoel was. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die kwessies wat Gcaleka uitwys, is voortslepende probleme wat bygedra het tot die minister se besluit om die skema onder administrasie te plaas:
# Die vakverbond Cosatu sê hy ondersteun die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy omdat dit werk kan skep in die gas-, petroleum- en energie-sektore. Die wetsontwerp maak dit moontlik om ‘n maatskappy in staatsbesit te skep en gee uitvoering aan die Kabinet se besluit op 10 Junie 2020 om PetroSA, die Suid-Afrikaanse Gasontwikkelingsmaatskappy en die Strategiese Brandstoffonds-vereniging saam te smelt. Matthew Parks van Cosatu sê indien dit reg bestuur word, kan die maatskappy bydra om dubbele mandate te beëindig, koste te bespaar en beter samewerking te verseker:
# Die vakbond Solidariteit het die sekuriteitsmaatskappy G4S en die Departement van Korrektiewe Dienste versoek om dringend met meer as 50 werknemers by die Mangaung Korrektiewe Sentrum in die Vrystaat te vergader wat sedert verlede maand nie hulle gewone salarisse ontvang het nie. Werkers is vasgevang in ‘n voortgesette regsgeskil oor die oorname van die fasiliteit. Theunis van Staden van die vakbond het beide partye aangespoor om tot ‘n ooreenkoms te kom oor tussentydse finansiële verligting en ondersteuning:
# Oekraïne se voormalige minister van Verdediging, Mykhailo Fedorov, vra dat ʼn oorlogstyd-presidentsverkiesing gehou word en sê ʼn demokrasie kan nie deur Rusland gyselaar gehou word nie. Die 35-jarige Fedorov se afdanking verlede maand het opslae gemaak. Hy het volgens berigte weer lewe geblaas in die ministerie, ʼn veldtog teen korrupsie gelei en data gebruik om prestasie in die voorste linie te ontleed en te verbeter. Fedorov sê in ʼn video op YouTube Oekraïne staar ʼn sistemiese bestuurskrisis in die gesig, en dat die land selfs in oorlogstyd na ʼn volle demokratiese bestel moet terugkeer.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka van Belarus het slegs 54 minute nodig gehad om Wang Xinyu van China te verslaan vir ‘n plek in die laaste 16 by die Cincinnati Ope . Die 2023-kampioen Coco Gauff het haar plek in die vierde ronde verseker ná ‘n oorwinning in twee stelle oor haar landgenoot Ann Li. In die mansafdeling het die vyfde gekeurde Taylor Fritz van Amerika die Spanjaard Daniel Merida geklop, terwyl sy landgenoot Brandon Nakashima die Rus Daniil Medvedev in drie stelle uitgeskakel het en ook deur is na die laaste 16.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-307-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-350-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….