Nuus 11:00
BULLETIN 12 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die gebroke stelsels is die gevolg van korrupsie en kaderontplooiing
# Die SAKP vra vir ‘n alliansie-herskommeling, nie opbreking nie
# En, ActionSA verwelkom die bek-en-klouseer-inentingskema, en dring aan op effektiewe uitvoering
# Die uittredende leier van die DA, John Steenhuisen sê Suid-Afrika se gebroke regeringstelsels is die gevolg van verswakte instellings wat veroorsaak word deur kaderontplooiing en korrupsie. Steenhuisen het by die party se kongres in Midrand, Gauteng, voormalige president Jacob Zuma se era as ‘n keerpunt aangehaal wat tot die agteruitgang van die ekonomie gelei het. Hy sê die heropbou van stelsels bly ‘n uitdaging, maar vordering word gemaak, met beskeie ekonomiese groei en dalende werkloosheid wat vroeë tekens van herstel aandui:
By dieselfde kongres sê die DA se minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, hy hoop om sy posisie as adjunkfederasievoorsitter te behou teen die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en die Tshwane-koukusleier, Cilliers Brink. Malatsi sê die party beleef ‘n deurbraak terwyl dit streef om teen 2029 die land se grootste party te word. Hy sê sterk, ervare leierskap en regeringsprestasie bly sleutelfaktore:
# Die adjunk-nasionale voorsitter van die SAKP, Thulas Nxesi, sê die party probeer nie sy alliansie met die ANC verswak nie, maar wil dit herkonfigureer. Dit volg terwyl die ANC se nasionale uitvoerende raad hdie naweek vergader om ‘n pad vorentoe met die alliansie te vind voor die plaaslikeregeringsverkiesing. Nxesi sê verskille binne die alliansie moet met volwassenheid hanteer word, veral na die SAKP se besluit om onafhanklik aan verkiesings deel te neem. Hy het ‘n beroep gedoen op dissipline en eenheid terwyl die belange van die werkersklas bevorder word.
# ActionSA het die bekendstelling van die vasgestelde inentingskema vir bek-en-klouseer deur die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwelkom en dit ‘n langverwagte stap genoem om siektebeheer te verbeter. Die party sê die raamwerk laat privaat veeartse en vee-eienaars groter betrokkenheid toe by inentings, en weg van ‘n gesentraliseerde benadering. ActionSA waarsku egter die sukses sal afhang van behoorlike toepassing, beskikbaarheid van entstowwe en koördinering tussen owerhede. Hy sê hy sal vordering noukeurig monitor om te verseker dat die skema werklike resultate vir boere lewer.
# BetterBond sê Suid-Afrika se residensiële eiendomsmark toon tekens van herstel, ondersteun deur laer rentekoerse en verslapte depositovereistes. BetterBond-huisleningindeks vir April het met 21,8-persent gestyg sedert laat 2023, wat sterker huiskoopaktiwiteit weerspieël. Kenners sê verbeterende bankvertoning, beskeie ekonomiese groei en stygende werklike inkomste versterk vertroue. Die druk veroorsaak deur geopolitiese spanning en brandstofpryse bly egter ‘n risiko vir verdere rentekoersverlagings. Deposito’s van eerstekeerkopers het aansienlik gedaal, wat help om toegang tot huiseienaarskap te verbeter.
# En ten slotte, Rugby: Die Stormers betreur die dood van sy jarelange spanbestuurder Chippie Solomon gister na ‘n hartaanval. Die 66-jarige Solomon het die Kaapse franchise sedert 2004 gedien en meer as 350 wedstryde oor twee dekades aangevoer. Hy het as ‘n haker en losvoorspeler die Westelike Provinsie Skole onder die vaandel van die SA Rugbyunie verteenwoordig en was die lewenslange president van die Kuilsrivier Rugbyklub. Die Wes-Kaapse rugbygemeenskap beskryf hom as ‘n mentor en ‘n gerespekteerde leier met oneindige energie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….