Nuus 11:00
BULLETIN 26 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê vrag bestem vir Suid-Afrika beweeg veilig deur die Straat van Hormoes
# OUTA waarsku die versuim om oortredings te straf, ondermyn die stryd teen korrupsie
# En tennis: Sabalenka en Fils is deur na die Miami Ope-halfeindstryd
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê vaartuie met vrag en voorrade vir Suid-Afrika beweeg deur die Straat van Hormoes sonder onderbreking of bedreiging van Iran. Die seestraat waarlangs sowat 20-persent van die wêreld se olie- en vloeibare aardgas gewoonlik vervoer word, word ernstig geraak deur die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Mantashe sê Iran se verklaarde posisie behoort vrese oor onmiddellike onderbrekings, veral na Suid-Afrika, te besweer:
Intussen beweer president Donald Trump dat Iran graag ‘n ooreenkoms wil sluit, maar hulle is bang om dit te sê. Dit volg nadat Teheran ‘n Amerikaanse skietstilstandvoorstel van die hand gewys en gesê het hulle het geen voorneme om te onderhandel nie. Iran het vyf voorwaardes gestel om die konflik te beëindig, insluitend ‘n algehele staking van aanvalle en erkenning van sy soewereiniteit oor die Straat van Hormoes. Trump beweer die Iranse leierskap is bang om te sê dat hulle onderhandel omdat hulle deur hul eie mense doodgemaak sal word:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê drie verklikkers van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Dienste verdien volle heraanstelling of vergoeding. Dit volg nadat die agentskap erken het dat hul ontslag onbillik was, sewe jaar nadat hulle 370-miljoen-rand se onreëlmatige besteding blootgelê het. Die organisasie doen ‘n beroep op dissiplinêre stappe teen diegene wat verantwoordelik is om verdere korrupsie te voorkom. Rudie Heyneke van OUTA waarsku sonder verantwoordbaarheid bly openbare fondse in gevaar en toekomstige fluitjieblasers kan ontmoedig word om na vore te kom:
# Transnet verwag spoorvolumes van ongeveer 168-miljoen ton vir die 2025/26 finansiële jaar, teenoor die vorige 160,1-miljoen ton. Dit is egter laer as die teiken van 180-miljoen ton. Uitvoerende hoof Michelle Phillips sê herstelpogings het prestasie bestendig, met verdere groei wat deur privaat treinoperateurs verwag word. Regeringsgesteunde hervormings is daarop gemik om kapasiteit te verhoog en skuld te verminder, terwyl uitdagings, insluitend lokomotieftekorte en instandhoudingsagterstande wat vragkorridors beïnvloed, steeds bestaan.
# Tennis: Wêreldnommer-een Aryna Sabalenka kom in ‘n halfeindstryd teen Elena Rybakina in die Miami Open te staan. Die Belarussiese tennisster het die ongekeurde Amerikaner Hailey Baptiste geklop om die laaste vier vir die tweede agtereenvolgende jaar te haal. Rybakina van Kazakstan het die Amerikaner Jessica Pegula geklop. In die mansafdeling het die Fransman Arthur Fils die Amerikaner Tommy Paul gestuit om sy eerste halfeindstryd te haal. Hy sal teen die Tsjeg Jiri Lehecka speel, wat die ongekeurde Spanjaard Martin Landaluce geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-11-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-447-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….