Nuus 11:00
BULLETIN 7 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die 2026 plaaslike regeringsverkiesing gaan hewig betwis word
# AfriForum sê die Hooggeregshof-uitspraak oor munisipale kragtariewe is ware mylpaal vir elektrisiteitsverbruikers
# En motorsport, Max Verstappen spring voor weg in die deurslaggewende Abu Dhabi Grand Prix
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die 2026-plaaslike regeringsverkiesing is van groot belang en gaan skerp betwis word. Steenhuisen het gister die kongres van die DA in die Noord-Kaap in Upington toegespreek. Hy sê in sommige dele van die land verduur gesinne eindelose wateronderbrekings, besoedelde voorrade, verstopte riool en gebreekte infrastruktuur wat nooit herstel word nie. Hy het bygevoeg die rioolkrisis is op die punt waar inwoners daagliks saamleef met dreigende omgewings- en gesondheidsrampe wat deur wanbestuur en verwaarlosing veroorsaak word:
# AfriForum sê die Pretoriase Hooggeregshof se uitspraak teen die Nasionale Energiereguleerder oor die implementering van spesifieke tydlyne vir alle toekomstige munisipale kragtariefaansoeke, is ‘n ware mylpaal vir elektrisiteitsverbruikers regoor die land. Morné Mostert van AfriForum sê die hof het onomwonde bevind dat Nersa se langdurige, sistemiese en volgehoue versuim om tydige en deursigtige prosesse vir tariefverhogings te volg, die openbare deelnameproses ten volle ondermyn:
# Die Brandweerdienste van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het bevestig dat die vyf groot brande wat die afgelope paar dae aangemeld is, nou onder beheer is. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê in Idasvallei buite Stellenbosch het die wind oornag bedaar en spanne het uitstekende vordering gemaak met die brandlyn nou ten volle onder beheer. Sy sê ‘n grondspan bly op die toneel om met opruiming voort te gaan:
# Die nuut aangestelde uitvoerende hoof van die Konsessievereniging van Suid-Afrika, Freddy Makgato, beklemtoon die dringende behoefte om konsessies te benut om Suid-Afrika se ekonomiese herstel en groei te dryf. Hy sê die konsessiesektor dra tans ongeveer 15-persent by tot Suid-Afrika se groeiende binnelandse produk. Makgato sê as die konsessiemodel ingestel word, kan dit vir Suid-Afrika aansienlike ekonomiese voordele inhou, insluitend die skep van duisende nuwe werksgeleenthede en die uitbreiding en bemagtiging van klein en mediumgrootte ondernemings:
# Rusland het oornag ‘n massiewe hommeltuig- en missielaanval op Oekraïne uitgevoer met Kiëf wat die Verenigde State gaan ontmoet te midde van voortgesette diplomatieke pogings om ‘n vredesooreenkoms te bereik. Moskou het 653 hommeltuie en 51 missiele gelanseer, wat gelei het tot lugaanvalwaarskuwings regoor Oekraïne. Oekraïnse magte kon 585 hommeltuie en 30 missiele afskiet en neutraliseer. ‘n Totaal van 29 plekke is aangeval, met minstens agt mense gewond, waarvan drie in Kiëf. Intussen het Rusland se Ministerie van Verdediging gesê sy lugverdediging het oor die naweek 116 Oekraïnse hommeltuie oor Russiese gebied afgeskiet.
# En motorsport: Max Verstappen van Red Bull het sy twee McLaren-teenstanders uitoorlê en spring eerste weg in die seisoen se laaste Grand Prix in Abu Dhabi en versterk daarmee sy poging om ‘n vyfde agtereenvolgende titel in te palm. Kampioenskapsvoorloper Lando Norris is langs Verstappen. Norris is 12 punte voor die Nederlander en sal die titel wen as hy op die podium eindig. Sy McLaren-spanmaat Oscar Piastri is derde. Wegspringplekke is uiters belangrik in Abu Dhabi. Die laaste 12 wedrenne is almal gewen deur motors wat in die voorste ry begin het, met 10 daarvan uit die eerste wegspringplek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….