Nuus 09:00
BULLETIN 7 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal na die massaskietery by die Saulsville-taverne in Atteridgeville styg tot 12
# SAFTU eis Getuie D se moord moet dringend op die hoogste vlak en onafhanklik ondersoek word
# En rugby, die Blitsbokke is deur na halfeindronde by die Kaapstad Sewestoernooi
# Die polisie het bevestig dat die aantal mense wat doodgeskiet is in ‘n voorval by ‘n taverne by die Saulville Hostel in Atteridgeville wes van Pretoria, nou tot 12 gestyg het, nadat nog ‘n slagoffer gister in die hospitaal dood is. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê 25 mense is geskiet met 12 wat dood is, onder andere ‘n driejarige kind. Die polisie-ondersoek duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Mathe het bygevoeg die skietery het by ‘n onwettige sjebien plaasgevind:
Intussen doen die Forum for South Africa doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om na aanleiding van die voorval in Atteridgeville dringend ‘n referendum te oorweeg oor die herinstelling van die doodstraf vir doelbewuste moord in die land. FOSA-leier, Tebogo Mashilompane, sê baie Suid-Afrikaners sterf as gevolg van ‘n mislukte regs- en strafregtelike stelsel:
# SAFTU eis dat die moord op Marius van der Merwe, bekend as Getuie D, geprioritiseer en onafhanklik ondersoek moet word, deur instellings wat nie by die Madlanga-kommissie betrek is nie. Die vakbondfederasie sê die moord stuur ‘n skrikwekkende boodskap van intimidasie en sal ander getuies ontmoedig om na vore te kom met inligting, wat noodsaaklik is om die diep verrotting te stop wat by die Kommissie blootgelê is. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê Suid-Afrika het ‘n pynlike geskiedenis van fluitjieblasers wat vermoor word vir dit wat hulle ontbloot het:
Die Activists and Citizens Forum sê intussen die moord op Van der Merwe moet deur alle patriotiese Suid-Afrikaners veroordeel word. Forum-woordvoerder, Dennis Bloem, sê hulle het onlangs gesê die getuienis van getuies A, B, C en D voor die Madlanga-kommissie mag nie ligtelik opgeneem word nie. Hy sê die getuies het ernstige bewerings teen senior polisiebeamptes en Ekurhuleni Metropolisiebeamptes gemaak en moet beskerm word omdat hul lewens in gevaar is:
# Rugby: Die Blitsbokke is in die halfeindronde na ‘n foutlose vertoning op die openingsdag van die Sewestoernooi in Kaapstad waartydens hulle al hul groep wedstryde gewen het. In hul openingswedstryd teen Fidji het hulle ‘n dramatiese oorwinning van 24-21 behaal danksy ‘n drie deur Shilton van Wyk in die doodsnikke. In die wedstryd teen Nieu-Seeland het Ronald Brown die oorwinning van 19-14 met ‘n laat drie vir die gashere verseker. Suid-Afrika het die dag afgesluit met ‘n oorwinning van 41-7 oor Groot-Brittanje. Vandag se halfeindstryd teen Frankryk is om 12:22.
# En gholf: Die Suid-Afrikaner se Jayden Schaper begin vandag die laaste rondte van die Nedbank Gholf-uitdaagtoernooi ter ere van Gary Player, op vyf houe agter die Noorweër Kristoffer Reitan. Die 24-jarige Schaper, speel vir die eerste keer in die toernooi en is op 12 onder baansyfer na sy derde rondte van 66. Hy sal in die laaste groep saam met die voorloper Reitan op 17 onder afslaan. Schaper word sterk ondersteun deur sy landgenoot Christiaan Bezuidenhout op 10 onder baansyfer, wat ook hoop op ‘n eerste Suid-Afrikaanse oorwinning in die toernooi sedert 2017.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….