Nuus 11:00
BULLETIN 6 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Elf mense word doodgeskiet in ‘n massaskietery by die Saulsville-hostel in Atteridgeville
# Die GOOD-party sê die VSA wil die G20 soos ‘n veeplaas bestuur
# En krieket: Die Protea-vroue klop Ierland in hul T20-openingswedstryd
# Ten minste elf mense is gisteraand doodgeskiet en meer as tien ander beseer by die Saulsville-hostel in Atteridgeville, in die weste van Pretoria. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die beseerdes in die massaskietery is hospitaal toe geneem. ‘n Polisieondersoek is aan die gang en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
# Die ANC het die wrede moord op ‘n getuie van die Madlanga-kommissie, Marius van der Merwe in Brakpan, Ekurhuleni, gisteraand veroordeel. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê Van der Merwe het noodsaaklike inligting aan die kommissie verskaf, insluitend bewyse oor die Stad Ekurhuleni en die Ekurhuleni-metropolisie. Sy sê sy dood is ‘n ernstige terugslag vir voortgesette pogings om die strafregstelsel te versterk. Sy het gevra vir sterker beskerming vir alle getuies wat aan die kommissie en verwante ondersoeke deelneem.
# Die GOOD-party sê die besluit van die Verenigde State, wat die G20-voorsitterskap vir 2026 oorneem, om Suid-Afrika se lidmaatskap eensydig te kanselleer, is prosedureel gebrekkig en minagtend teenoor multilateralisme. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrika is ‘n stigterslid van die G20, nie net op grond daarvan dat dit onder die top 20 ekonomieë ter wêreld is nie, maar om multilateralisme te bevorder en Afrika se stem in wêreldsake te versterk:
# Cosatu vier vandag sy 40ste bestaansjaar met ‘n saamtrek by die Dobsonville-stadion in Soweto. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê die federasie, wat op 1 Desember 1985 op die hoogtepunt van apartheid gestig is, het 33 vakbonde en federasies onder een vaandel bymekaargebring met die oproep van “Een vakbond, een bedryf, een land, een federasie”. Sy sê dit het vinnig ‘n mag vir bevryding geword namate dit miljoene gemobiliseer het deur nasionale wegbly-aksies, stakings en gemeenskapsveldtogte soos die huurboikotte van die 1980’s:
# En te slotte sportnuus:
# Gholf: Kristoffer Reitan van Noorweë het sy voorsprong van een hou behou na die tweede ronde van die Nedbank Gholf-uitdaging by Sun City. Reitan, wat ‘n openingsronde van 63 aangeteken het, het onder uitdagende toestande gister 69 aangeteken, en staan nou op 12 onder baansyfer, algeheel. Die Fransman Adrien Saddier is sy naaste teenstander op 11 onder. Christiaan Bezuidenhout van Suid-Afrika staan steeds ‘n goeie kans, en is gesamentlik derde – drie houe agter na ‘n stewige ronde van 65.
# En krieket: Die Protea-vroue het ‘n oortuigende oorwinning van 105 lopies oor Ierland behaal in die eerste T20 op Nuweland. Kaptein Laura Wolvaardt was die ster met ‘n briljante onoorwonne 115 lopies van 56 balle terwyl Suid-Afrika ‘n massiewe 220/2 aangeteken het. Die veelsydige Suné Luus het 81 lopies bygedra en later 4 paaltjies vir 22 lopies ingeoes om Ierland vir 115 uit te skakel, en die gasvroue 1-0 te laat voorloop in die reeks. Hulle ontmoet môre weer om twee uur op Boland Park in die Paarl.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….