Nuus 11:00
BULLETIN 30 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier verdagtes in die hof oor vermeende buitelandse militêre werwing
# Rise Mzansi sê die Unite for Change-alliansie sal menswaardigheid herstel
# En, gemengde welslae vir Suid-Afrikaanse rugbyspanne in die naweek VRK-wedstryde
# Vier verdagtes verskyn môre in die Kemptonpark-landdroshof nadat hulle in hegtenis geneem is vir vermoedelike oortreding van die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand. Hulle is by OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep terwyl hulle op pad na Rusland was. Die woordvoerder van die Valke, Katlego Mogale sê ‘n Suid-Afrikaanse vrou het na bewering hul werwing vir die Russiese weermag fasiliteer. Mogale het aan SABC News gesê elektroniese toestelle is gekonfiskeer en owerhede ondersoek moontlike wyer veiligheidsbedreigings:
# Die leier van Rise Mzansi, Songezo Zibi sê die Unite for Change-alliansie, bestaande uit sy party, Build One South Africa en die GOOD-party, het ten doel om basiese menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners te herstel. In ‘n toespraak in Soweto het Zibi gesê waardigheid is nie moontlik sonder noodsaaklikhede soos sanitasie en werkgeleenthede nie. Hy beklemtoon Suid-Afrikaners moet etiese leierskap en goeie regering ondersteun om ‘n billike en waardige toekoms vir almal te verseker:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het LURs geprys vir die verbetering van behuisingslewering en die spoedige aanwending van 2025/2026-fondse. Tydens die laaste Minister-LUR-vergadering van die jaar het sy opgemerk provinsies het teen September meer as 52-persent van die Menslike Nedersettings-ontwikkelingstoelaag en byna 60-persent van die Informele Nedersettings-opgraderingstoelaag bestee. Sy het sterk presteerders soos die Vrystaat uitgelig en metro’s aangespoor om hul toekennings ten volle te benut om waardigheid te herstel en permanente behuisingsoplossings uit te brei.
# Die Johannesburgse Metropolisie het ‘n 39-jarige taxibestuurder in hegtenis geneem wat beskuldig word dat hy ‘n vroulike atleet gister tydens die Soweto-marathon naby die Soweto-snelweg en hoofweg raakgery het. Beamptes sê hy het probeer ontsnap, maar is dadelik voorgekeer. ‘n Asemtoets het bevestig dat hy oor die wettige alkoholperk was. Xolani Fihla sê die 37-jarige atleet het ernstige beserings opgedoen en is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem:
# Rugby: Die Springbok rugbykaptein Siya Kolisi sê Wallis moet teen die beste te staan kom as hulle wil verbeter, nadat Suid-Afrika hulle met 73-0 in Cardiff vermorsel het. Die Springbokke het altesaam 11 drieë gedruk deur Gerhard Steenekamp, Ethan Hooker, Jasper Wiese, Morne van den Berg, Wilco Louw, Canan Moodie, André Esterhuizen, Ruan Nortje en Eben Etzebeth. Sacha Feinberg-Mngomezulu het twee gedruk en nege van die drieë verdoel. André Esterhuizen is as Speler van die Wedstryd aangewys. Kolisi beskryf die oorwinning as ‘n sterk afsluiting van die 2025-seisoen:
Suid-Afrikaanse spanne het gemengde sukses behaal in die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapwedstryde. ‘n Verbete terugvegpoging deur die Stormers in die tweede helfte Saterdagaand gelei tot ‘n welverdiende oorwinning van 27-21 oor aartsvyande Munster. Danksy hul indrukwekkende momentum is die Stormers nou bo-aan die punteleer, drie punte voor hulle naaste teenstanders.
Die Haaie het Saterdag weereens ‘n slegte aand beleef toe hulle met 44-17 deur Connacht in ‘n belangrike sesde ronde-wedstryd in Galway uitoorlê is. Ander naweekuitslae het die Haaie tot 14de op die punteleer laat sak, waar hulle sal bly totdat hulle net voor Kersfees in ‘n VRK-tuis-derby teen die Bulle speel.
En op Loftus het die Leeus waarskynlik hul beste vertoning van die seisoen gelewer om die Bulle te skok en hul VRK-derby met 43-33 te wen. Danksy die oorwinning is die Leeus nou sewende op die punteleer nadat hulle die Bulle verbygesteek het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….