Nuus 11:00
BULLETIN 5 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê die Wetsontwerp op Eenstop-grensposte moet ingestel word om grensprobleme op te los
# Die Demokratiese sosialis Zohran Mamdani is die stad New York se nuwe burgemeester
# En krieket: Laura Wolvaardt van Suid-Afrika is aangewys as kaptein van die Vroue-wêreldbeker se Toernooispan
# RISE Mzansi sê die Wetsontwerp op Eenstop-grensposte het groot potensiaal en indien behoorlik ingestel, sal dit langdurige grensbestuursprobleme oplos. Die wetsontwerp wat in die Nasionale Vergadering aanvaar is, stel ‘n regsraamwerk voor om gedeelde grensposte tussen Suid-Afrika en sy buurlande te skep. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê die wetsontwerp se sukses hang af van samewerking en vertroue tussen lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap:
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê die optimalisering van die regulatoriese omgewing is die sleutel tot die ontsluiting van die volle ekonomiese potensiaal van die mynboubedryf. Die bedryf het verlede jaar 470-miljard rand tot huishoudelike inkomste bygedra en meer as 3,5-miljoen mense, insluitend werkers en verskaffers, ondersteun. Die sektor het 342-miljard-rand se belasting betaal, 160-miljard-rand in toerusting en infrastruktuur belê, en 248-miljard-rand se minerale plaaslik verkoop. Allan Seccombe van die raad sê ‘n bestendige, beleggersvriendelike omgewing sal mynbou, werkgeleenthede en ekonomiese groei ‘n hupstoot gee.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê die provinsie is gereed om later die maand die G20-leiersberaad aan te bied in die Nasrec-uitstalsentrum in Johannesburg. Dit word bygewoon deur meer as 60 staatshoofde en staatsamptenare, insluitend Amerika se visepresident, JD Vance, die Chinese president, Xi Jinping, en leiers van internasionale organisasies. Lesufi sê die provinsie is goed toegerus om ʼn veilige omgewing vir alle deelnemers en inwoners te verseker:
# Die Demokratiese sosialis Zohran Mamdani is tot burgemeester van die Amerikaanse stad New York verkies – die eerste Moslem en eerste persoon van Indiese afkoms om die amp te beklee. Die 34-jarige is ook die jongste burgemeester sedert 1892. Hy het die voormalige goewerneur, Andrew Cuomo, en die Republikein Curtis Sliwa verslaan. Die Demokrate het ook oorwinnings behaal in die goewerneursverkiesings in New Jersey en Virginië. Mamdani het onderneem om verandering in te lui wat president Donald Trump se politiek verwerp:
# Krieket: Laura Wolvaardt van Suid-Afrika is aangewys as kaptein van die Toernooi-span van die eendag-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die span van 12 lede bevat ses spelers wat in die eindstryd tussen Indië en die Proteas gespeel het. Indië, wat die toernooi die eerste keer gewen het, het drie spelers in die span: Smriti Mandhana, Jemimah Rodrigues en Deepti Sharma. Suid-Afrika het ook drie bygedra: Wolvaardt, Marizanne Kapp en Nadine de Klerk. Drie Australiese spelers, twee Engelse spelers en Sidra Nawaz van Pakistan voltooi die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-738-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-956-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….