Nuus 11:00
BULLETIN 21 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê ware gelykheid kan nooit deur diskriminerende wetgewing bereik word nie
# Sanae Takaichi maak geskiedenis as Japan se eerste vroue-premier
# En rugby: Rassie Erasmus verwag ‘n taai Bok-toer volgende maand
# Die landbouorganisasie TLU SA verwelkom die hernude openbare bespreking oor die ware gelykheid en inklusiewe ekonomiese groei. Dit volg na die DA begin het om druk uit te oefen vir die vervanging van die swart bemagtigingsbeleid deur die instelling van die Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal. Die party sê die wetsontwerp sal armoede teiken as die plaasvervanger vir benadeling eerder as ras. Bennie van Zyl van die TLU sê swart bemagtiging in sy huidige vorm het tot wydverspreide wanbestuur, korrupsie en politieke begunstiging gelei:
# The Green Connection waarsku die regering se fokus op gas- en kernenergie kan die koste van elektrisiteit vir die verbruiker opjaag. Dit volg na die aanbieding van die geïntegreerde hulpbronplan van twee-duisend-miljard-rand deur die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa. Liz McDaid van die omgewingsgroep sê die plan het nie ‘n duidelike verbintenis tot die uitfasering van fossielbrandstowwe nie en bevoordeel eerder duur en klimaatskadelike projekte:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê hulle sal nie weifel in hul pogings om openbare ruimtes terug te eis, verordeninge af te dwing en veilige ekonomiese bedrywighede in die middestad te bevorder nie. Verordenings-toepassingsoperasies om wet en orde te herstel het daartoe gelei dat sommige informele handelaars uit hul lewensbestaan gedwing is te midde van uitdagings met handelspermitte. Die metro berei nou voor vir ‘n regstryd oor die afdwinging van ordonnansies. Morero sê hulle het geen wette oortree nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Liberaal-Demokratiese Party se leier, Sanae Takaichi, is die eerste vrou wat as Japan se eerste minister gekies is. Die 64-jarige Takaichi, wat as Japan se “Ystervrou” bekendstaan, het 237 stemme uit 465 in die Parlement se laerhuis gekry. Dit volg nadat haar party ingestem het tot ‘n koalisie met die regse Japanse Innovasie-party. Takaichi, wat ʼn groot bewonderaar van die Verenigde Koninkryk se eerste vroue-premier, Margaret Thatcher, is, is konserwatief en gekant teen selfdegeslag-huwelike en ʼn groeiende beweging wat getroude pare toelaat om aparte vanne te gebruik.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle verwag ‘n taai en uitdagende jaareind-toer. Die voormalige Junior Springbok-stut en kaptein, Zachary Porthen, is die enigste nuweling wat in die groep van 36-speler ingesluit is vir volgende maand se toer. Die Bokke sal Japan op die eerste van volgende maand op die Wembley-stadion in Londen pak, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys, Italië in Turyn, Ierland in Dublin en Wallis in Cardiff. Erasmus sê die toer is ‘n goeie geleentheid om hulself teen die bestes te toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-760-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-332-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….