Nuus 11:00
BULLETIN 17 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê hoë skuldvlakke bly ‘n hindernis vir ekonomiese groei
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sê hy vrees vir sy lewe
# En MI-5 waarsku Brittanje ondervind toenemende bedreigings van terrorisme
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê hoë staatskuld en fiskale druk maak dit belangrik om groei-georiënteerde makro-ekonomiese beleid na te volg om langtermyn-groeimoontlikhede te bevorder. G20-lande se ministers van Finansies en sentrale banke se presidente het hierdie week in Washington hul toewyding bevestig om globale groei te stabiliseer, skuldkwessies te hanteer en Afrika se stem in wêreldwye finansiële bestuur te bevorder. Masondo sê strukturele hervormings bly noodsaaklik vir sterk ekonomiese groei en meer en beter werksgeleenthede:
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê Amerika se handelstariewe sal nie Suid-Afrika se brandstofsekerheid beïnvloed nie. President Donald Trump van Amerika het in Augustus ‘n tariefverhoging van 30-persent ingestel op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika. Mantashe sê omdat die land nie brandstof na Amerika uitvoer nie, is daar geen uitwerking op die plaaslike brandstofprys nie. Hy sê die land voer brandstof in van verskeie internasionale verskaffers en dit bied voldoende beskerming teen moontlike ontwrigting.
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sê hy vrees vir sy lewe nadat die polisie gister ʼn klopjag uitgevoer het by sy sakeonderneming in Mahikeng. Die polisie sê dis deel van ʼn voortgaande ondersoek wat reeds voor die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee bespreek is. Mogotsi word beskuldig dat hy deel was van druk om die KwaZulu-Natalse taakspan oor politieke moorde te ontbind en word verbind met die misdaadbaas, Vusimuzi ‘CAT’ Matlala. Mogotsi het aan eNCA gesê hy vertrou nie die polisie nie:
# Die Verenigde Koninkryk se binnelandse veiligheidsdiens, MI-5, waarsku dat Brittanje ‘n toenemende bedreiging van vyandige lande ondervind, insluitend Iran, Rusland en China, terwyl die risiko vir terrorisme enorm bly. Die VK het verlede jaar ‘n toename van 35-persent ondervind in die aantal verdagtes wat vir moontlike werk vir ‘n vyandige buitelandse regering ondersoek is. Die hoof van die MI-5, Ken McCallum, sê dis kommerwekkend dat een uit elke vyf van die 232 mense wat verlede jaar vir terrorisme vasgetrek is, jonger as 17 was:
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het vyf-miljoen-rand se bonusse aan Bafana Bafana se spelers en personeel beloof nadat hulle die eerste keer in 16-jaar vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het. McKenzie het die aankondiging in die kleedkamer gedoen na Suid-Afrika se oorwinning van 3-0 oor Rwanda en hulle vasberadenheid geprys. Hy het afrigter Hugo Broos ook geloof vir die gedaante-wisseling van die span en gesê hulle het die land trots gemaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41 sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-42 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-378 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-355 dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-33-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….