Nuus 11:00
BULLETIN 11 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Public Interest South Africa loof die Madlanga-kommissie se verklikkers
# Solly Malatsi sê die einde van slimfoonbelasting skep geleenthede
# En rugby, Skotland se afrigter beskou die Bokvoorspelers as die beste ter wêreld
# Die stigter en voorsitter van Public Interest South Africa, Tebogo Khaas, sê getuienis wat by die Madlanga-kommissie gelewer is deur die afgetrede Valke-ondersoeker Kolonel Kobus Roelofse, Valke-kaptein Mark McLean en ander, was waardevol. Die kommissie het getuienis aangehoor oor bewerings dat die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, ingemeng het in die ondersoeke na aanrandings deur generaal-majoor Feroz Khan. Hy het aan die SABC gesê die getuienisse beklemtoon eerlike polisiebeamptes verdien sterker institusionele ondersteuning:
# Die afgetrede SAPD-generaal-majoor Jeremy Vearey het die bekendstelling van die Ombud vir die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie verwelkom, en vra vir ‘n hersiening van sy bedrywighede. Afgetrede regter Takalani Raulinga is aangestel as die eerste Ombud, met die taak om klagtes van magsmisbruik en wanadministrasie te ondersoek. Dit volg op getuienis voor die Madlanga-kommissie wat kommer oor die direktoraat laat ontstaan het. Vearey het aan Newzroom Afrika gesê IDAC bly ‘n kritieke instelling:
# Die ANC in Gauteng het inwoners aangespoor om die nuut opgegradeerde K101-pad tussen Johannesburg en Tshwane te beskerm deur vandalisme en ander misdaadaktiwiteite aan te meld. Die party het die projek verwelkom as ‘n groot belegging in die provinsie se vervoerinfrastruktuur. Die projek het vaardigheidsopleiding aan inwoners verskaf en klein besighede tydens konstruksie ondersteun. Mzi Khumalo van die ANC sê die verbeterde pad sal verkeersvloei, padveiligheid en ekonomiese groei verbeter:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, sê die verwydering van luukse belasting op intreevlak-slimfone help om digitale toegang en ekonomiese geleenthede uit te brei. Malatsi se verklaring volg na die vrystelling van ‘n verslag deur die Global System for Mobile Communications Association wat die impak geëvalueer het van die skrapping van aksynsbelasting op toestelle van minder as tweeduisend-500-rand. Malatsi sê die belastinghervorming het slimfone meer bekostigbaar gemaak, wat toegang tot werk, onderwys, bankwese en regeringsdienste verhoog.
# Rugby: Skotland se hoofafrigter, Gregor Townsend, beskryf die Springbokke se voorspelers as die beste ter wêreld. Die twee spanne speel vandag teen mekaar in ‘n Nasieskampioenskap-kragmeting op Loftus Versfeld in Pretoria. Die Skotte kon Suid-Afrika slegs vyf keer klop in die spanne se 30 vorige ontmoetings. Townsend sê hulle berei voor vir ‘n uiters fisieke kragmeting teen die wêreldkampioene nadat albei spanne goeie oorwinnings in die eerste ronde behaal het – die Bokke teen Engeland en Skotland teen Argentinië. Afskop is vanmiddag om 20 voor 6.
En die Tshwane Metropolisie het omvattende padsluitings rondom die Loftus Versfeld-stadion aangekondig vir vandag se wedstryd. Verskeie paaie, insluitend Kirkness-, Park-, Bond-, Eastwood- en dele van Arcadia-strate, sal geraak word. Motoriste word versoek om die omgewing rondom die stadion te vermy en alternatiewe roetes soos Francis Baard-, Pretorius- en Justice Mahomed-strate te gebruik. Metropolisie- en SAPD-beamptes sal deur die loop van die dag ontplooi word om verkeer te bestuur, veiligheid te handhaaf en toeskouers te help.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….