Nuus 09:00
BULLETIN 11 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Britse moordverdagte is in Johannesburg gearresteer
# Die MK Vroueliga skaar hulle agter Busisiwe Mkhwebane te midde van haar regsgeding
# En sokker, SAFA verwerp berigte dat Hugo Broos Bafana Bafana verlaat het
# Interpol en die Eenheid vir Georganiseerde Misdaad het ‘n Zimbabwies-Britse burger, Mkhanyisi Tshuma, in hegtenis geneem. Hy word deur die Britse owerhede gesoek vir die beweerde moord van sy vrou en twee dogters. Die polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die 45-jarige is opgespoor na ‘n Interpol-rooi kennisgewing en hy is vyf dae na hy Suid-Afrika binnegekom het, gearresteer. Die motief vir die moorde is steeds onbekend. Sy het bevestig dat Tshuma na verwagting Maandag in die hof sal verskyn wanneer die uitleweringsproses begin:
# Die MK Vroueliga het sy steun toegesê aan die voormalige Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane en veroordeel die Regspraktykraad se besluit om haar van die rol te skrap. Hulle beweer die aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria is polities gemotiveerd en maak deel uit van ‘n veldtog om onafhanklike swart vroue in leierskap te teiken. Lindi Mtshali van die liga sê die vroueliga staan agter Mkhwebane en sal sy lede mobiliseer om haar te verdedig.
# City Power sê Alexandra bly onder druk namate herhaaldelike onderbrekings in elektrisiteitstoevoer voortduur, aangevuur deur oorlaaiing, onwettige verbindings en lae elektrisiteitsaankope. Die nutsmaatskappy sê duisende diensoproepe is van regoor Johannesburg ontvang, te midde van koue weer en stygende aanvraag. Daar was transformator- en substasie-foute in verskeie gebiede, met herstelwerk wat voortduur. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê inwoners moet normaliseringsprogramme ondersteun, elektrisiteit wettig koop en oorlaaing van die netwerk vermy:
# Noordwes-polisie het sleutelverdagtes in hegtenis geneem vir die moord op die gemeenskapsaktivis, Thato Molosankwe. Die misdaadbestrydingsaktivis is op 20 Mei by sy huis in die dorpie Lomanyaneng doodgeskiet. Die polisie het nog nie die identiteite van die gearresteerdes of die aanklagte teen hulle bekend gemaak nie. Die deurbraak volg na weke van intensiewe ondersoeke na die moord, wat wydverspreide oproepe vir geregtigheid tot gevolg gehad het. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn met die ondersoek wat voortduur.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het berigte ontken dat Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, sy pos verlaat het. SAFA sê die bewerings is vals en die Belg is steeds in beheer van die nasionale span. Broos het Suid-Afrika onlangs gelei na ‘n geskiedkundige eerste verskyning in die tweede ronde van die FIFA Wêreldbeker. Die afrigter is tans in België en word later vandeesmaand in Suid-Afrika terug verwag. SAFA sê hulle het geen veranderinge aan die tegniese span aangebring nie.
# En ten slotte, Earthlife Africa Johannesburg sê gemeenskappe sal vanmiddag in Jeffreysbaai bymekaarkom om hul kommer oor die voorgestelde Thyspunt-kernkragstasie in die Oos-Kaap uit te spreek. Inwoners, omgewingsgroepe, vissers en toerisme-operateurs sal na verwagting hulle besware lug oor die projek se impak op lewensbestaan, die omgewing, watersekerheid, openbare veiligheid en die langtermyn onkoste. Die geleentheid het ook ten doel om groter openbare deelname, deursigtigheid en aanspreeklikheid aan te moedig voordat enige finale besluite geneem word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….