Nuus 11:00
BULLETIN 15 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê dis tyd dat Suid-Afrika sy diplomatieke betrekkinge met Israel hervat
# Die Madlanga-kommissie hervat môre sonder uitsluitsel oor geheime getuienis
# En die Suid-Afrikaner Wim van den Heever is die Natuurlewe-fotograaf van die jaar
# Die Vryheidsfront Plus sê dis tyd dat Suid-Afrika diplomatieke bande met Israel normaliseer om sy opregte verbintenis tot blywende vrede in die Midde-Ooste te demonstreer. Die regering het die land se ambassadeur in Israel, Sisa Ngombane, in November 2023 herroep weens kommer oor veiligheid tydens die konflik tussen Israel en Hamas. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê die afwesigheid van ‘n ambassadeur toon ʼn algehele gebrek aan diplomatieke toewyding om te help om die konflik op te los:
# Die Madlanga-kommissie in Pretoria sal nie vandag sit nie, ten einde die regsgeding op te los oor die vraag of môre se getuie agter geslote deure sal praat. Die voorsitter van die kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, sê die besluit volg op voortgaande veiligheidskwessies. Intussen het getuienisleier Adila Hassim WhatsApp-boodskappe namens getuie X oorhandig, waarin beweer word dat die misdaadkenner Calvin Rafadi geld en gunste van die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala ontvang het in ruil vir gunstige mediadekking:
# Die Universiteit van Fort Hare se visekanselier, Sakhela Buhlungu, sê oproepe dat hy bedank is niks nuut nie en hy hou vol hy gaan nêrens nie. Betogende studente eis dat hy verwyder word en sê hy steur hom nie aan bewerings van wanbestuur by die instelling nie. Buhlungu sê hy gaan voort met organisatoriese herstrukturering en monitor talle hofsake oor moord en bedrog op die kampus. Hy sê hy is vasbeslote om tot die einde te veg en sy volle termyn aan te bly.
# Krieket: Die gewilde Twee-miljoen-rand-vangskoot keer terug in die vierde seisoen van die SA20, wat op 26 Desember begin. Toeskouers in die pawiljoen wat die bal met een hand vang, deel prysgeld van twee-miljoen-rand aan die einde van die toernooi, terwyl deelnemers wat die borg, Betway, se Catch Game-speel, hulle prysgeld verdriedubbel. Kommissaris Graeme Smith sê die kompetisie het ‘n integrale deel van die pawiljoen-ondervinding geword en is ‘n gunsteling onder toeskouers by die 34 wedstryde. Die eindstryd word op 25 Januarie gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-512-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-195-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaner Wim van den Heever is aangekondig as 2025 se Natuurlewefotograaf van die Jaar vir sy foto getiteld Spookdorpbesoeker. Die foto is van ‘n bruin hiëna wat langs die ruïnes van ‘n verlate diamantmynbou-nedersetting in die spookdorp Kolmanskop in Namibië staan. Die foto is gekies uit ‘n rekord van 60-duisend-636 inskrywings uit 113 lande en gebiede. Van Heever sê dit het hom tien jaar geneem om die enkele foto te kry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….