Nuus 11:00
BULLETIN 13 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Busongeluk eis die lewens van 42 mense in Limpopo
# Die waarnemende minister van Polisie sê korrupsie is ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid
# En die eerste sewe lewende Israelse gyselaars word vrygelaat uit Gaza
# Twee-en-veertig mense, waaronder sewe kinders, is gister dood toe ‘n passasiersbus buite Louis Trichardt in Limpopo omgeslaan het. Volgens voorlopige berigte het die bus passasiers uit die Oos-Kaap vervoer op pad na hul tuislande, Zimbabwe en Malawi. Die bus het blykbaar in ʼn styl bergpas van die pad geloop en teen ʼn wal afgestort. Meer as 30 passasiers is in die hospitaal opgeneem. Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê die premier sal later vandag die ongelukstoneel besoek:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê korrupsie is diepgewortel in instellings en politieke strukture in die land en is ‘n ernstige bedreiging vir nasionale veiligheid. Suid-Afrika is in die onderste 90 van die 180 lande wat vroeër vanjaar deur Transparency International se aanwyser volgens vlakke van openbare sektor-korrupsie gerangskik is. Cachalia sê hulle het die stigting van ‘n nuwe multifunksionele, anti-korrupsie-agentskap voorgestel wat aan die Grondwet voldoen:
# Die Activists and Citizens Forum sê hulle is uiters teleurgesteld met wat hulle noem die onderprestasie van parlementslede wat op die ad hoc-komitee dien wat beweerde misdadige bedrywighede binne die polisie ondersoek. Die komitee het tot dusver getuienis aangehoor van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en pasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die komiteelede doen nie hulle werk nie, maar speel eerder party-politiek:
Nuus uit die buiteland:
# Die Israelse Weermag het bevestig dat die vrylating van lewende Israelse gyselaars uit Gaza begin het. Hamas het tot dusver sewe gyselaars vrygelaat en na die Rooi Kruis oorgeplaas. Die ander 13 lewende gyselaars sal later uit verskillende gebiede van Gaza vrygelaat word. Byna twee-duisend Palestynse gevangenes en aangehoudenes in Israel sal ook vrygelaat word as deel van die eerste deurslaggewende fase van die wapenstilstands-ooreenkoms wat deur Amerika bemiddel is. Hamas sê hy is verbind tot die gyselaars-vrystellingsooreenkoms, mits Israel daarby hou.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het 34 spelers gekies vir hulle jaareind-toer na Japan en Europa. Die groep sluit die nuwelinge Aidan Ross en Kalani Thomas in, terwyl Dylan Pietsch en Andrew Kellaway na beserings terugkeer. Die losskakel Carter Gordon is ook gekies nadat hy ‘n vrystelling van sy Nasionale Rugbyliga-kontrak verkry het. Australië sal vyf agtereenvolgende toetse speel op die toer: in Tokio teen Japan, in Londen teen Engeland, in Udine teen Italië, in Dublin teen Ierland, en in Parys teen Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-69-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….