Nuus 11:00
BULLETIN 4 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema beskuldig die Intelligensiekomitee van sabotasie
# ActionSA kondig vandag sy Ekurhuleni-burgemeesterskandidaat aan
# En Sean ‘Diddy’ Combs is tot vier jaar tronkstraf gevonnis
# Die EFF-leier Julius Malema het die gesamentlike staande komitee oor Intelligensie beskuldig dat hulle die Ad Hoc-komitee wat ondersoek instel na die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings, doelbewus saboteer. Malema sê die Inspekteur-Generaal van Intelligensie, Imtiaz Fazel, wag op leiding terwyl openbare voorleggings nog nie ondersoek is nie. Hy het kommer uitgespreek dat die komitee nog nie met die getuienisleier, Norman Arendse, vergader het nie, en sê die gebrek aan duidelikheid is ‘n doelbewuste poging om die ondersoek se vordering te vertraag:
Die getuienisleier van die parlementêre Ad Hoc-komitee, Norman Arendse, sê intussen verskeie openbare voorleggings is ontvang voor die aanhoor van getuienis deur Mkhwanazi. Arendse het aan die komitee gesê die Intelligensie-inspekteur-generaal het eers leiding van die gesamentlike staande komitee versoek voordat hy met die ad hoc-komitee vergader het:
# ActionSA sal vandag die party se burgemeesterskandidaat vir die Stad Ekurhuleni, Gauteng, bekend maak vir die 2026 plaaslike regeringsverkiesing. In ‘n onlangse besoek aan die stad het leier Herman Mashaba kommer uitgespreek oor misdaad, korrupsie en die mislukte basiese dienste. Hy sê die kandidaat sal wetteloosheid aanpak en dienste herstel. Hy het beklemtoon dat Ekurhuleni ‘n leier nodig het wat die stad van misdadigers sal terugneem en die klimaat vir groei en werksgeleenthede skep.
# Die Hip-hop-magnaat Sean “Diddy” Combs is tot vier jaar tronkstraf gevonnis, ‘n boete van meer as agt-miljoen-rand opgelê en vyf jaar onder toesig vrygelaat. ‘n Jurie in New York het hom vrygespreek van afpersing en sekshandel, maar skuldig bevind op twee aanklagte van die vervoer van vroue vir prostitusie. Die Amerikaanse distriksregter Arun Subramanian het krediet gegee vir tyd wat reeds sedert September 2024 uitgedien is. Subramanian het gesê die vonnis dien as ‘n afskrikmiddel en stuur ‘n sterk boodskap dat geweld teen vroue aanspreeklikheid vereis.
# En ten slotte sportnuus:
# Gholf: Die Suid-Afrikaanse uitdagers by die Alfred Dunhill Links-kampioenskap op St Andrews in Skotland het gister ‘n goeie dag gehad. Richard Sterne deel die voortou in die gesogte DP World-toernooi op 12 onder baansyfer saam met die Skot Robert MacIntyre. Sy landgenoot Louis Oosthuizen is net een hou agter, terwyl Herman Loubser vier houe agter die voorlopers is. Beide Sterne en Oosthuizen is in ‘n stryd gewikkel om slegs die tweede spelers in die geskiedenis te word om beide die Alfred Dunhill-kampioenskap en die Alfred Dunhill Links-kampioenskap te wen. Sy landgenoot Branden Grace is tot dusver die enigste speler wat dit kon regkry.
# En sokker: Mikel Arteta sê Arsenal moet ‘n hoër vlak bereik as hulle belangrike trofees wil wen terwyl hy regmaak om vir die 300ste keer beheer van die Gunners te neem. Arsenal kan vir minstens ‘n paar uur boaan die Premierliga-leer wees, as hulle vandag teen West Ham by die Emirates wen, voordat Liverpool, die huidige voorlopers, teen Chelsea speel by Stamford Bridge. Artera handhaaf in sy 300 wedstryde ‘n indrukwekkende wenkoers van 58-persent, maar kan steeds nie kers vashou by die trofeë-versamelings van voorgangers soos Arsène Wenger en George Graham nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….