Nuus 11:00
BULLETIN 11 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel se eerste minister sê hulle veg teen Hamas in ooreenstemming met internasionale reg
# Sokker: Bafana Bafana vertrek na die Ivoorkus vir die Afrikabekertoernooi
# En, DJ Black Coffee herstel ná ‘n ernstige besering op ‘n vlug
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê sy land baklei teen Hamas-terroriste, nie die Palestynse bevolking nie. Hy voeg by hulle doen dit in algehele ooreenstemming met die internasionale reg. Die Internasionale Geregshof hoor vandag Suid-Afrika se saak aan waarin beweer word Israel pleeg volksmoord in sy oorlog in Gaza. Netanyahu sê Israel het geen bedoeling om Gaza permanent te beset of sy burgerlike bevolking te ontwortel nie:
# COPE het gevra vir ‘n verandering in die kiesstelsel. Die party se leier, Mosiua Lekota, het op ‘n nuuskonferensie in Johannesburg gevra dat die Grondwet gewysig moet word sodat kiesers regstreeks kan stem vir die persoon van hul keuse om hulle te lei. Lekota sê die huidige stelsel het bewys dit is ‘n mislukking:
# Energiekenners beskryf die pas vrygestelde Geïntegreerde Hulpbronplan as neerdrukkend. Die plan wat voorspel hoeveel krag die land gaan nodig hê en watter energie-kombinasie ekonomies die grootste energiesekerheid gaan lewer, is verlede week in die Staatskoerant gepubliseer. Vergeleke met die 2019-plan, word gasverkryging nou versnel, steenkoolaanlegte oor ‘n langer tydperk uit diens gestel, en die verkryging van hernubares verminder. Die energiekenner, Anton Eberhard, sê die plan vervul nie sy verklaarde doelwit om elektrisiteitsekerheid te verseker terwyl omgewingsuitwerking en voorsieningskoste verminder word nie.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, glo die span kan goed vaar in die Afrikabekertoernooi. Suid-Afrika vertrek vandag na die Ivoorkus nadat hy gister sy voorbereidings afgesluit het met ‘n oefenwedstryd teen Lesotho in Pretoria. Die toernooi begin Saterdag met die openingswedstryd tussen die gasheer en Guinee-Bissau. Suid-Afrika begin sy veldtog Dinsdag teen Mali, gevolg deur groepswedstryde teen Namibië en Tunisië. Williams het Suid-Afrikaners gevra om hulle span te ondersteun:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-162-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-37-sent per vat.
#En, laastens: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse platejoggie, Black Coffee, ʼn spoedige herstel toegewens. Black Coffee, wie se regte naam Nkosinathi Maphumulo is, is beseer tydens ʼn ernstige ongeluk op ʼn vlug na Argentinië waar hy sou optree. Sy bestuur sê in weerwil van uitdagings, voel die musiekster optimisties en herstel hy goed. Kodwa sê Black Coffee doen baie om Suid-Afrikaanse musiek te bevorder en aan die wêreld bekend te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….