Nuus 11:00
BULLETIN 4 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde vra president Ramaphosa om minister Pule se aanstelling om te keer
# City Power lê beslag op meer as ‘n ton aluminiumkabels in ‘n gesamentlike optrede teen onwettige verbindings
# En: Donald Trump prys Amerika en kritiseer kommunisme tydens die 250ste bestaansjaarvieringe
# Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde, vra president Cyrl Ramaphosa om sy besluit om Dina Pule aan te stel as die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, om te keer. Asive Dyani van SAFTU sê hierdie besluit is ‘n ernstige knou vir openbare vertroue en ondermyn verder die geloofwaardigheid van die President se herhaalde verbintenis tot etiese bestuur, verantwoordbaarheid en die vernuwing van die staat:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die wêreldwye motorsektor verskuif vinnig na nuwe-energievoertuie. Mashatile waarsku Suid-Afrika kan teen 2035 belangrike uitvoermarkte verloor indien die plaaslike motorbedryf nie betyds oorskakel na nuwe-energievoertuie nie. Hy sê die regering waardeer dat Chery die voortou neem met die bekendstelling van nuwe-energievoertuie in Afrika en reeds verskeie modelle aanbied. Mashatile voeg by Suid-Afrika is goed geplaas om die vasteland van voertuie te voorsien deur geleenthede wat gebied word deur die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied:
# Die Verkiesingskommissie vra Suid-Afrikaners om voor die 21 Julie-sperdatum kommentaar te lewer op die konsep-Verkiesingsgedragskode vir die Bekamping van Waninligting. Die Kommissie het die konsep in die Staatskoerant gepubliseer vir openbare kommentaar, ‘n belangrike mylpaal in die beskerming van die integriteit van verkiesingsprosesse voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die OVK sê die dokument poog om duidelike beginsels en standaarde te bepaal wat verantwoordelike gedrag vanaf alle deelnemers en belanghebbendes aanmoedig.
# City Power het suksesvol beslag gelê op net meer as ‘n ton aluminiumkabels tydens sy jongste operasie om onwettige verbindings te verwyder en nakoming in verskeie gebiede in Johannesburg af te dwing. Woordvoerder Isaac Mangena sê onwettige verbindings, wanbetaling en herhaalde onwettige heraansluitings plaas ernstige en onvolhoubare druk op die kragnetwerk. Hy sê hierdie praktyke oorlaai transformators en infrastruktuur wat nooit vir sulke ongekontroleerde aanvraag ontwerp is nie, en onbestendige spanning en gereelde kragonderbrekings veroorsaak:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het Amerikaners versoek om die vryhede wat die land se stigters 250 jaar gelede in die vooruitsig gestel het te beskerm teen wat hy die kommunistiese invloed van progressiewe Demokrate noem. Hy het op die vooraand van Onafhanklikheidsdag by Mount Rushmore gepraat waar hy sy anti-kommunistiese boodskap verbind het aan die anti-immigrasie-standpunte wat ‘n belangrike deel van sy verkiesingsveldtog gevorm het en geskiedkundig deel vorm van kritiek teen kommunisme. Trump waarsku reeds die afgelope week oor die groeiende invloed van demokratiese sosialiste en beskryf hul politieke vooruitgang as die grootste bedreiging vir die land sedert sy ontstaan.
# En motorsport: Lewis Hamilton spring voor weg in vandag se snelren by die Britse Grand Prix na ‘n uitstekende kwalifiserende ronde in sy Ferrari. Hy het Mercedes se 19-jarige kampioenskapsleier Kimi Antonelli uitgestof en ‘n onvergeetlike dag op Silverstone beleef. Die sewemalige wêreldkampioen het die Britse Grand Prix op sy tuisrenbaan reeds ‘n rekord nege keer gewen. Viermalige kampioen Max Verstappen begin derde vir Red Bull, voor Charles Leclerc in die tweede Ferrari en George Russell in die tweede Mercedes. Wêreldkampioen Lando Norris spring sesde weg gevolg deur sy McLaren-spanmaat Oscar Piastri.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….