Nuus 11:00
BULLETIN 2 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sestien mense sterf in ‘n busongeluk naby Touwsrivier in die Wes-Kaap
# Mbalula kritiseer Jacob Zuma se ontmoeting met die voortvlugtige Guptas
# En sokker: Bafana Bafana kry ‘n helde-ontvangs ná ‘n geskiedkundige Wêreldbeker-veldtog
# Sestien mense is dood in ‘n busongeluk wat vanoggend op die N1 naby Touwsrivier in die Wes-Kaap plaasgevind het, en twee mense is ernstig beseer. Die Departement van Beweeglikheid se woordvoerder, Maxine Bezuidenhout, sê die bus was die enigste voertuig betrokke en het vermoedelik omgeslaan. Sy sê daar was 73 passasiers op die bus, almal Suid-Afrikaners:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het oudpresident Jacob Zuma se onlangse besoek aan Indië kritiseer en hom beskuldig dat hy diegene wat die Guptas voor die gereg moet bring in die gesig spoeg. Zuma is tydens sy besoek by ‘n Hindoe-tempel saam met Ajay Gupta afgeneem. Die Nasionale Vervolgingsgesag het verskeie mislukte pogings aangewend om Ajay en sy broer Rajesh aan Suid-Afrika uitgelewer te kry om op klagte van staatskaping tereg te staan. Mbalula sê Zuma moet die regering inlig oor waar die Guptas is in plaas daarvan om saam met voortvlugtende misdadigers partytjie te hou.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê aanspreeklikheid is ‘n mensereg, en die Parlement moet dit beskerm met sterker toesig, terwyl die regering aanspreeklik gehou moet word vir besteding en dienslewering. Volgens die organisasie lei swak toesig tot swak bestuur, korrupsie en mislukte openbare dienste wat mense se regte regstreeks raak op gebiede soos onderwys, gesondheidsorg en ekonomiese geleenthede. Rachel Fischer van OUTA sê doeltreffende parlementêre ondersoek is noodsaaklik om burgers se regte te beskerm en aanspreeklikheid in die regering te verbeter.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het teruggekap teen bewerings dat hy finansieel voordeel trek uit sy amp en sê hy verdien meer omdat die aandelemark verstewig. Sy persoonlike finansiële onthulling toon hy het verlede jaar 16,4-miljard-rand verdien deur beleggings in kripto-geldeenhede, betaling uit tantieme, eiendomsbeleggings en die verkoop van Bybels en sportskoene met die Trump-handelsmerk. Hy sê almal trek voordeel uit die aandelemark te danke aan die werk van sy administrasie:
# Sokker: Die Bafana Bafana-groep wat geskiedenis gemaak het op die Wêreldbekertoernooi, het vanoggend ‘n helde-ontvangs gekry met hul aankoms op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng. Bafana het wel Sondag in die ronde van 32 1-0 teen Kanada verloor, maar dit was die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat die nasionale span ʼn Wêreldbeker-uitklopfase bereik. Afrigter Hugo Broos sê die span het wonderlike ondersteuning van Suid-Afrikaners ontvang:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-177-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-71-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….