Nuus 11:00
BULLETIN 26 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dineo Mokwele dien ‘n klag by die Teen-korrupsiedirektoraat-ombud teen Andrea Johnson in
# Een persoon is dood en 16 ander beseer by die Gay Pride-fees in Berlyn
# En die voormalige SABC-nuusleser Gillian van Houten is op 72 oorlede
# Die polisie se hoof van Misdaadintelligensie Tegniese-ondersteuningsdienste, Dineo Mokwele, het ‘n amptelike klag by die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie-ombud ingedien teen die hoof van die direktoraat, advokaat Andrea Johnson. Die klag volg op Johnson se getuienis voor die Madlanga-kommissie, waar sy erken het dat Mokwele se arrestasie op verkeerde bewerings gegrond was en om verskoning gevra het vir die bevraagtekening van haar kwalifikasies. Mokwele se regspan het die ombud gevra om bewerings van wangedrag, wanadministrasie en misbruik van aanklaergesag te ondersoek. Sy sê Johnson se optrede het haar reputasie geskaad.
# Die Vodacom-groep het saamgespan met die Universiteit van Johannesburg en Amazon-webdienste om die Vodacom KI-laboratorium van stapel te stuur en Suid-Afrika se kunsmatige intelligensie-talentpyplyn te bou. Die uitvoerende hoof van Vodacom, Shameel Joosub, het tydens die bekendstelling in Johannesburg gesê dit sal samewerking tussen die akademie en die bedryf versterk en studente toerus met praktiese KI-vaardighede. Hy voeg by die vennootskap ondersteun Afrika se doelwit om ‘n internasionale KI-sentrum te word deur plaaslike innovasie en tegnologie-oplossings te ontwikkel.
# Sokkernuus:
‘n Emosionele voorsitter van Mamelodi Sundowns, Thlopie Motsepe, het hulde gebring aan wyle Jayden Adams en hom beskryf as ‘n sokkerspeler wie se talent en nalatenskap buite Suid-Afrika se grense onthou sal word. Motsepe het tydens Adams se begrafnis die middelveldspeler se prestasies as ‘n Bafana Bafana -internasionale speler, Afrika-kampioen en FIFA Wêreldbeker -speler gevier. Motsepe het hom beskryf as ‘n nederige en charismatiese spanmaat wie se onselfsugtige karakter hom geliefd en gerespekteer gemaak het:
Die president van die Afrika-sokkerfederasie Patrice Motsepe sê intussen gesprekke is aan die gang oor hoe Mamelodi Sundowns die familie van Adams verder kan ondersteun. Motsepe sê die klub is daartoe verbind om die familie te ondersteun gedurende hul tyd van rou. Hy het Adams geprys omdat hy Suid-Afrika trots gemaak het met sy prestasie op die veld. Hy het die respek van spanmaats, afrigters en ondersteuners verdien:
# Een persoon is dood en 16 ander beseer nadat ‘n motor in ‘n skare by ‘n Berlin Pride-geleentheid vasgejaag het. ‘n Intensiewe soektog is aan die gang in die Duitse hoofstad. Beamptes het ‘n foto van die verdagte vrygestel en doen ‘n beroep op hulp om hom te vind. Die voorval het gisteraand kort voor tienuur in Tiergarten-park, naby die ikoniese Brandenburger-hek, plaasgevind. Die Duitse bondskanselier Friedrich Merz het die voorval as ‘n “afskuwelile daad” bestempel en ‘n volledige ondersoek belowe.
# En ten slotte: Die voormalige SABC-televisienuusleser en bekende natuurbewaarder, Gillian van Houten, is op 72-jarige ouderdom oorlede. Van Houten het gedurende die 1980’s en 90’s een van Suid-Afrika se bekendste nuusaanbieders geword voordat sy die uitsaaiwese verlaat het om wildbewaring saam met die filmmaker John Varty na te streef. Sy het die afgelope paar jaar aan demensie gely. Varty het in ‘n emosionele huldeblyk oor hul lewenslange band en gedeelde passie vir Afrika se wildlewe uitgebrei. Sy word oorleef deur hul drie kinders.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….