Nuus 11:00
BULLETIN 12 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF gaan sy eie kandidate vir president en speaker stel
# Die Patriotic Alliance gaan met die MK-party vergader oor koalisiegesprekke
# En krieket: Die Proteas kwalifiseer vir die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die adjunk-president van die EFF, Floyd Shivambu, sê hulle gaan Vrydag met die eerste sitting van die Parlement hul eie kandidate stel vir president en speaker van die Nasionale Vergadering. Druk is besig om op te laai op politieke partye om in te stem tot die ANC se voorstel oor die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid. Shivambu het aan die SABC gesê hy is teleurgesteld in die ANC se benadering oor die samestelling van ‘n nuwe regering:
Die Patriotic Alliance sê intussen hy vergader vandag met die MK-party om die uitslag van die verkiesing en moontlike koalisie-ooreenkomste te bespreek. Die party het onlangs met die ANC vergader oor die voorstel van die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid. Die P-A het nege setels in die Nasionale Vergadering gekry, en tien in provinsiale wetgewers. Die party sê sy benadering is om konsensus na te streef waar moontlik en andersins ooreen te kom om te verskil.
# Die verpleegorganisasie Denosa in Mpumalanga het die drie lewenslange vonnisse verwelkom wat die voormalige polisiekonstabel, Sizwe Cedric Khoza, opgelê is. Die Hooggeregshof het hom gevonnis vir die moord op sy vrou, skoonsuster en swaer in April verlede jaar. Denosa se provinsiale sekretaris, Cyril Mdhluli, sê die vonnis lewer ‘n sterk standpunt teen geslagsgeweld:
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor doen ‘n beroep vir die onmiddellike vrylating van alle VN-personeel wat in Jemen deur die de facto Houthi-owerhede aangehou word. Die Iran-gesteunde rebelle het Maandag 13 VN-personeellede as CIA-spioene in hegtenis geneem. Die VN se Menseregte-woordvoerder, Ravina Shamdasani, sê enige verdere optrede teen menseregte- en humanitêre werkers in Jemen moet gestaak word:
# Krieket: Suid-Afrika het vir die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer nadat die wedstryd tussen Sri Lanka en Nepal in Florida weens reën afgelas is sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Die Proteas is met drie oorwinnings in drie wedstryde bo-aan Groep D met ses punte, terwyl Bangladesj en Nederland elk twee punte van twee kragmetings het. Suid-Afrika speel Saterdag in Kingston teen Nepal in sy laaste groepswedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-322-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….