Nuus 11:00
BULLETIN 11 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge ondersteun die moontlike aanstelling van ‘n onafhanklike minister van Finansies
# Agt-en-dertig migrante is dood en 100 word vermis nadat ‘n boot by Jemen omgeslaan het
# En sokker: Bafana se afrigter sê ‘n oorwinning oor Zimbabwe in vanaand se Wêreldbeker-kwalifiseerder is noodsaaklik
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge steun die idee van ‘n onafhanklike minister van Finansies as deel van die samestelling van ‘n regering van nasionale eenheid. Die DA het glo tydens samesprekings met die ANC voorgestel president Cyril Ramaphosa stel ‘n minister van Finansies aan wat nie deel van die ANC is nie. Michael Morris van diei Instituut sê die aanstelling van ‘n geloofwaardige, gekwalifiseerde en onpartydige persoon om die Nasionale Tesourie te bestuur is ‘n manier om sleutel kabinets-portefeuljes te depolitiseer:
‘n Politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela, sê intussen ‘n ooreenkoms vir ‘n regering van nasionale eenheid wat slegs op Ramaphosa berus, sal onvolhoubaar wees. Mkhabela sê in ‘n rubriek vir News24 die gewone binnegevegte in die ANC sal voortduur in die aanloop tot sy verkiesingskonferensie in 2027. Hy sê dit sal die party verder verswak en dit moontlik moeilik maak vir Ramaphosa om die regering te beheer.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het Saterdag se skietery in ‘n haarsalon in Terrein C, Khayelitsha, veroordeel wat vier lewens geëis het. Onbekende gewapende mans het die salon in Gqrwarha-straat binnegegaan en op die mense geskiet. ‘n Dertigjarige man en twee kinders van elf en 12 is op die toneel dood. ‘n Vyfjarige seun het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Hill-Lewis sê die gewelddadige, gewetenlose massaskietery is goed georganiseer deur misdadigers wat nie vir die polisie bang is nie:
# Minstens 38 migrante wat van die Horing van Afrika gereis het, is dood terwyl meer as 100 steeds vermis word nadat hulle boot aan die kus van Jemen omgeslaan het. Agt-en-sewentig is gered. Owerhede sê diegene aan boord was merendeels van Ethiopië, wat Jemen as ‘n oorgangspunt gebruik om na die Golf-state te reis. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê die aantal migrante wat jaarliks uit Afrika migreer, het verdrievoudig, van sowat 27-duisend in 2021 tot meer as 90-duisend verlede jaar.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hulle móét vanaand se Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryd teen Zimbabwe in Bloemfontein wen. Dit sal Suid-Afrika se derde kragmeting teen die Warriors wees in die kwalifiseringsronde vir die wêreld-kompetisie, terwyl hulle net soveel teen hul gereeldste teenstander, Burkina Faso, gespeel het. Broos sê hy is vol vertroue dat sy span die paal sal haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-626-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….