Nuus 11:00
BULLETIN 10 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ontleders waarsku ‘n regering van nasionale eenheid sal nie noodwendig bestendigheid bring nie
# Suid-Korea hervat sy oorgrens-luidsprekeruitsendings na die Noorde
# En gholf: Scottie Scheffler maak weer geskiedenis
# Politieke ontleders waarsku hoewel die idee van ‘n regering van nasionale eenheid in beginsel goed is, bring dit nie noodwendig bestendigheid nie. Die ANC beraadslaag tans met ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, om sy voorstel oor so ‘n bedeling te bespreek en moontlik president Cyril Ramaphosa se herverkiesing te bewerkstellig. Die ontleder Ralph Mathekga sê dit beteken nie partye se verskille verdwyn as hulle instem tot ‘n regering van nasionale eenheid nie. Hy sê wat saak maak, is die kwessies waaroor hulle kan saamstem.
ActionSA het intussen sy nasionale en provinsiale lyste gefinaliseer vir die komende eerste sitting van die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers. Die party het ses setels in die Parlement verower, met die party se Oos-Kaapse voorsitter, Athol Trollip, wat die koukus in die Nasionale Vergadering sal lei. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê hulle het besluit om die sterkste moontlike afvaardiging te stuur wat alles sal moet uithaal om die Parlement te wys wat in hulle steek:
# Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ‘n dringende aansoek teen die Nasionale Energiereguleerder by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die aansoek wil NERSA verhinder om die aansoeke van munisipaliteite te oorweeg vir die verhoging van elektrisiteitstariewe vanaf 1 Julie, sonder die vereiste kostestudies. Volgens ‘n woordvoerder van AfriForum, Morné Mostert, gee kostestudies ‘n aanduiding wat tariewe behoort te wees om dienste te lewer en netwerke te onderhou:
# Suid-Korea beplan om die eerste keer in ses jaar propaganda-uitsendings teen Noord-Korea te hervat. Dit volg op Pjongjang se veldtog om ballonne gevul met rommel oor die grens te stuur. Meer as 300 Noord-Koreaanse ballonne is oor die naweek waargeneem met sowat 80 gevul met afvalpapier en velle plastiek wat in die Suide beland het. Pjongjang beskou die propaganda-uitsendings as ‘n oorlogsdaad en het in die verlede gedreig om dit op te blaas.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het slegs die tweede speler ná Tiger Woods geword wat die Spelers-, Meesters- en Gedenkkampioenskap in dieselfde jaar kon wen. Die 27-jarige Amerikaner het op twee oor 74 klaargemaak om die PGA-toernooi se Gedenk-kampioenskap met een hou te wen vir sy vyfde titel die seisoen. Sy landgenoot Collin Morikawa was tweede en Adam Hadwin van Kanada derde. Scheffler sê Muirfield Village is altyd moeilik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-455-dollar-30-sent. Die prys van goud is een-duisend-293-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….