Nuus 11:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NERSA verwelkom die Hooggeregshof-uitspraak om vertroulike rekords openbaar te maak
# Studenteskema kyk na betalingskwessies met privaat akkommodasie
# En, krieket: Miller en Baartman blink uit in SA se T20 Wêreldbeker-oorwinning teen Nederland
# Die Nasionale Energiereguleerder verwelkom die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria oor die aansoek van Green Connection en OUTA. Dit was om NERSA te verplig om vertroulike rekords oor die ooreenkoms met Karpowership openbaar te maak. Die woordvoerder Charles Hlebela sê die reguleerder is verbind tot deursigtigheid oor toegang tot inligting. Hy sê NERSA kyk nou na die regterlike hersiening van die besluit om lisensies vir elektrisiteitsopwekking aan Karpowership goed te keur:
# Die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Freeman Nomvalo, het met verhuurders van privaat studente-akkommodasie vergader om kwessies met uitstaande betalings aan te spreek. Die skema bevestig grootmaatbetalings is aan die einde van Mei en vroeg-Junie verwerk en die volgende betaling word vir 18 Junie beplan. Die woordvoerder Ishmael Mnisi sê verhuurders word versoek om nie studente uit te skop nie:
# Die Departement van Basiese Onderwys gaan nie meer met onderwysposte voorrang gee aan houers van die Funzu Lushaka-beurse nie. Voorheen het houers van ‘n graad in Onderwys en nagraadse sertifikaat in Onderwys voorkeur gekry. Die Raad van die Ministers van Onderwys het onlangs besluit hierdie ontvangers moet nie ten koste van gegradueerdes sonder subsidie voorkeur kry nie. Desondanks het die woordvoerder van die Departement van Basiese Onderwys, Elijah Mhlanga, benadruk die beurs is steeds belangrik om onderwysers te werf. Onderwyskenners en vakbonde het die besluit verwelkom.
# ‘n Antitrust-tribunaal in Nigerië het MultiChoice met amper twee-miljoen-rand beboet en beveel intekenare van DStv en Go-tv in die land moet ‘n maand se gratis kyktyd kry. Bloomberg berig die uitspraak kom nadat die maatskappy ‘n bevel verontagsaam het om voldoende waarskuwing te gee sou hy sy fooie verhoog. Dit volg nadat ‘n prokureur van Abuja in ‘n hofsaak aangevoer het agt dae is te min tyd vir ‘n kennisgewing van ‘n prysverhoging. Die Suid-Afrikaanse maatskappy oorweeg om teen die uitspraak te appelleer.
# En ten slotte, krieket: ‘n Onoorwonne 59 van 51 balle deur David Miller het Suid-Afrika veilig deurgedra in ‘n oorwinning met vier paaltjies teen Nederland in ‘n T20 Wêreldbeker-kragmeting in New York. Die Suid-Afrikaners het 106 vir ses aangeteken nadat hulle Nederland tot 103 vir nege beperk het, met Ottniel Baartman wat vier paaltjies platgetrek het. Daar word baie uitgesien na vanmiddag wanneer die twee aartsvyande in krieket, Indië en Pakistan, vir die eerste keer in Amerika teen mekaar te staan kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….