Nuus 11:00
BULLETIN7 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema verwerp die ANC se voorstel om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm
# ActionSA sê ‘n regering van nasionale eenheid sal die opposisie magteloos laat
# En die heropbou van Gaza sal byna 60 miljoen ton koolstofdioksied skep
# Die EFF-leier, Julius Malema, het die ANC se voorstel verwerp dat ‘n regering van nasionale eenheid gevorm word en sê hul kan nie mag met die vyand deel nie. President Cyril Ramaphosa sê ʼn regering van nasionale eenheid is die praktiesste en doeltreffendste manier om aan alle Suid-Afrikaners se verwagtinge te voldoen. Malema het in ʼn reeks inskrywings op sosiale media gesê die ANC is arrogant, want hy kan nie die pad vorentoe voorskryf asof hy die verkiesing gewen het nie.
ActionSA het ook die ANC se voorstel vir ‘n regering van nasionale eenheid verwerp en sê dit sal opposisiepartye kragteloos laat. Die ANC het reeds samesprekings gevoer met ander partye, insluitend die DA, die EFF en die IVP. President Cyril Ramaphosa sê ‘n regering van nasionale eenheid sal fokus op die bou van ‘n inklusiewe ekonomie, werkskepping, die bekamping van misdaad en korrupsie en die verbetering van dienslewering. ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê sy party se toekomstige rol is om ‘n opbouende opposisieparty te wees:
# Die Stad Tshwane se raad het die begroting vir die 2024/25-boekjaar goedgekeur. Die begroting oormerk 48,3-miljard-rand vir bedryfskoste en 2,3-miljard vir kapitaalbelegging in infrastruktuur. Burgemeester Cilliers Brink sê hulle het met die opstel van die begroting sterk gefokus op finansiële herstel, energie-onafhanklikheid en die bevordering van sigbare dienslewering:
# Die heropbou van die geraamde 200-duisend geboue wat in die eerste vier maande van Israel se aanval op Gaza vernietig is, sal byna 60-miljoen ton koolstofdioksied skep. Dis volgens navorsing wat op die Social Science Research Network gepubliseer is. Die medeskrywer, Ben Neimark, sê een van die gevolge van die oorlog is die skending van die reg op ʼn skoon, gesonde en volhoubare omgewing. Hy sê die wêreld fokus wel op die humanitêre aspek, maar die gevolge vir die klimaat is ook ʼn probleem.
# Rugby: Die oud-Stormer Oli Kebble hou duim vas vir ‘n oorwinning oor sy ou span in môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd voor sy tyd by Glasgow Warriors eindig. Die stut het 101 wedstryde vir die Skotse span gespeel sedert hy in 2017 by hulle aangesluit het, asook elf toetse vir sy aangenome land. Die 31-jarige Kebble swyg nog oor wat hy vir volgende seisoen beplan maar sê hy moet binnekort ‘n besluit neem. Hy hoop hy verlaat die Warriors met ‘n trofee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-156-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-377-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….