Nuus 11:00
BULLETIN 6 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank waarsku teen onvolhoubare koalisiebeleide
# Dertig mense insluitend vyf kinders sterf in ‘n Israelse aanval op ‘n VN-skool in Gaza
# En, motorsport: Mercedes doen nog opgraderings vir die Kanadese Grand Prix
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku Suid-Afrika sal waarskynlik beleggers verloor as koalisiebeleide nie bestendig is nie. Die ANC onderhandel tans met opposisiepartye om ‘n koalisieregering te vorm nadat hy sy meerderheid verloor het in verlede week se verkiesing. Sommige ekonome meen ‘n koalisie-ooreenkoms tussen die ANC en die DA sal help om mark-onsekerheid te verminder. Kganyago sê die sentrale bank sal steeds sy mandaat navolg:
# Die MK-party se leiers het dringende samesprekings met die minister van Polisie, Bheki Cele, begin oor die moord op sy lede. Twee van die party se lede is ‘n dag voor die verkiesing in Katlehong, Ekurhuleni, vermoor en ‘n derde in KwaZulu-Natal. MK sê dis uiters kommerwekkend dat die polisie nou ontplooi word om enige moontlike na-verkiesingsgeweld van die party te ontlont. Hy sê die houding is totaal misplaas en onregverdig, want dit is duidelik sy lede is slagoffers en nie die oortreders nie.
# Die Vryheidsfront Plus vra die KwaZulu-Natalse regering om die gebiede wat deur die onlangse vloede geraak is, soos Tongaat, tot rampgebiede te verklaar. Die provinsie is die afgelope paar dae getref deur verwoestende weer, soos swaar reën, stormwind en ‘n tornado, wat die lewens van elf mense geëis het. Rochelle Robbetze van die VF Plus sê die ramptoestand-verklaring sal die hulpbronne ontsluit wat nodig is om slagoffers by te staan en die skade te herstel:
# Minstens 30 Palestyne, insluitend vyf kinders, is dood in ‘n Israelse lugaanval op ‘n skool van die Verenigde Nasies in die Nuseirat-vlugtelingkamp in sentraal Gaza. Die Israelse Weermag het bevestig hy het ‘n aanval op die skool geloods en sê dit is die tuiste van Hamas-terroriste wat aan die aanval van 7 Oktober op Israel deelgeneem het. Hamas het die aanval as ‘n verskriklike massamoord en ‘n skande vir die mensdom beskryf.
# Motorsport: Mercedes sê hulle gaan dié naweek verdere opgraderings doen vir die Kanadese Grand Prix. Die Silver Arrows se beste Grand Prix-uitslag tot dusver die seisoen was ‘n vyfde plek, maar die span is optimisties ná ‘n goeie vertoning van George Russell se motor in Monaco, toe ‘n nuwe voorste vlerk gebruik is. Mercedes se baaningenieur, Andrew Shovlin, sê hulle is besig om die gaping tussen hulle en die voorste spanne, Red Bull, Ferrari en McLaren, te verklein:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-870-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….