Nuus 11:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 11 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse regering neem kennis van die Menseregtekommissie se verslag oor kinderwanvoeding
# Die Vryheidsfront-Plus skop sy 2024 verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap af
# En, Afrika se grootste mediese daggamaatskappy in Lesotho is te koop
# Die Oos-Kaapse regering het kennis geneem van die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregrtekommissie oor die kommerwekkende voorkoms van kinderwanvoeding en die reg tot voedsel. Die provinsiale regering sê hy het verskeie beleidsingrypings en strategië ingestel om die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid te takel. ‘n Woordvoerder van die departement , Khuselwa Rantjie, sê dit sluit in die aanspreek van die lot van kinderwanvoeding in sekere gebiede van die provinsie:
Speel klankgreep: ENG KhuselwaonChildMalnutrition
# Die Vryheidsfront Plus skop vandag sy 2024-verkiesingsveldtog in Goodwood, Kaapstad, af. Die party sal ook sy verkiesingsveldtog-tema onthul. Sy hoofdoel is om kiesers aan te spoor om te registreer en aan die komende verkiesing deel te neem. Die VF Plus het ten doel om die skade wat die ANC in byna 30-jaar aan bewind veroorsaak het, te beklemtoon en moedig daadwerklike deelname in die politieke landskap aan. Die partyleier, Pieter Groenewald, sê voorlopige peilings dui op ‘n afname in steun vir die ANC en ‘n positiewe reaksie op die veelparty-handves, wat die VF Plus insluit.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 12 kinders met kanker of ander bloed-afwykings is saam met hulle toesighouers uit die Gaza-strook se besette Palestynse gebied ontruim. Hulle is na Egipte en Jordanië geneem sodat hulle behandeling veiilig kan voortgaan. Nog kinders sal na verwagting vir kankerbehandeling as deel van die inisiatief ontruim word. Die WGO het die ontruimings verwelkom en benadruk die volhoubare en geordende, onbelemmerde en veilige ontruimings van swaargewonde mense en siek pasiënte na en via Egipte deur die Rafah-grenspos is noodsaaklik.
# Krieket: Die laaste drie Wêreldbeker-groepwedstryde vind vandag plaas en net een kan ʼn invloed op die halfeindstryde hê. Australië het reeds gekwalifiseer en speel tans teen Bangladesj, terwyl Pakistan Engeland later vandag moet klop om ʼn kans te staan om te kwalifiseer. Môre kom die gashere, Indië, wat boaan die punteleer is, teen Nederland te staan, wat daarna huiswaarts keer. Die Engelse kolwer, Dawid Malan, sê hoewel die verdedigende kampioen nie die groepfase oorleef het nie, is hy ingenome met sy eie vertoning:
Speel klankgreep: ENG Dawid Malan
# En op ‘n rokerige noot: Die grootste buitelug-aanleg vir daggaverbouing in Lesotho word op die 22ste van hierdie maand opgeveil. Highlands Investments hou die eerste en grootste handelslisensies vir die kweek, verwerking en verpakking van hoë gehalte tetrahydro-cannabinol en Cannabidiol-daggablomme. Broll Auctions and Sales hanteer die veiling van die onderneming van 20-hektaar met bates soos ‘n moderne verwerkings- en verpakkings-aanleg, ‘n natuurlike waterbron, drie mega-boorgate, drie reservoirs van ‘n miljoen-liter, ‘n volledig geïntegreerde besproeiingstelsel en verskeie ton CBD- en THC-biomassa.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….