Nuus 11:00
BULLETIN 10 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeliga sê aanstellingskwotas bedreig produktiwiteit
# Die DA wil hê die Spesiale Ondersoekeenheid moet die verdwyning van twee-miljard-rand in Ekurhuleni ondersoek
# En krieket: MI Cape Town en Durban’s Super Giants skop seisoen vier van die SA20 op 26 Desember af
# Sakeliga sê die gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming bevat rasgebaseerde aanstellingskwotas wat onmoontlik is om te bereik en skadelik is vir die ekonomie. Die sake-instelling en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika voer aan die nuwe regulasies is ongrondwetlik en skend die vryheid van werkgewers en werknemers. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, waarsku die kwotas kan werksverliese veroorsaak en verdeeldheid in die samelewing verhoog:
# Die Departement van Militêre Veterane sê hy is bewus van sowat 300 veterane se kommer oor vertragings met die uitbetaling van hulle pensioene. Meer as vierduisend-378 veterane het hulle pensioene ontvang sedert die voordeel in November 2023 ingestel is. ʼn Woordvoerder van die departement, Mxolisi Mkhonza, sê as gevolg van begrotingstekorte is dit duidelik dat die regulasies oor die uitbetaling van die pensioene hersien moet word:
# Die DA in Ekurhuleni gaan die Spesiale Ondersoekeenheid vra om ondersoek te doen na die verdwyning van meer as twee-miljard-rand uit die metro se inkomste en die beweerde verband met Mpho Mafole se moord. Die metro se voormalige afdelingshoof van forensiese ouditering het die saak ondersoek toe hy verlede maand vermoor is. Brandon Pretorius van die DA sê Ekurhuleni het na bewering die geld verloor as gevolg van ‘n inbraak by duisende elektrisiteitsrekeninge:
Nou nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê sy administrasie gaan ʼn tarief van 50-persent instel op alle invoere uit Brasilië. Hy beskuldig dié land van aanvalle op Amerikaanse tegnologiemaatskappye en van ʼn heksejag teen die verregse oudpresident, Jair Bolsonaro. Hy word daarvan beskuldig dat hy ʼn staatsgreep beplan het na sy naelskraapse nederlaag in 2022 se verkiesing. Die huidige president, Luiz Inácio Lula da Silva, het beloof om te reageer indien Trump voortgaan met sy dreigement en waarsku teen enige inmenging in sy land se strafregstelsel.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, MI Cape Town, gaan seisoen vier van die SA20 op 26 Desember op Nuweland afskop teen Durban’s Super Giants. Die jaarlikse T20-toernooi begin vanjaar vroeër as gewoonlik weens die afwesigheid van internasionale krieket in Suid-Afrika oor die Kerstyd. Twee wedstryde word twee dae later gespeel wanneer Pretoria Capitals en Joburg Super Giants kragte meet in Centurion en Paarl Royals en Sunrisers Eastern Cape op Bolandpark ontmoet. Die eindstryd vind op 25 Januarie plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-309-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….