Nuus 11:00
BULLETIN 9 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA betreur die gebrek aan staatsondersteuning vir die landbousektor
# Daar word meer werkers vermis in die gebou-ineenstorting in George as wat aanvanklik vermoed is
# En, sowat 70 skole het die afgelope ses maande selfdood of selfdoodpogings aangemeld
# Die landbou-unie TLU SA het die regering se gebrek aan ondersteuning vir die landbousektor veroordeel en sê dié sektor is die kern van die land se voedselsekerheid. Suid-Afrikaanse boere gaan gebuk onder verskeie probleme soos droogtes en voortdurende stygings in insetkoste. Bennie van Zyl van TLU SA sê die regering help hoofsaaklik kleinboere wat ongeveer drie-persent van die land se kosmandjie vol maak terwyl kommersiële boere op hul eie moet klaarkom:
# Die George-munisipaliteit sê ná noukeurige bestudering van die veiligheidsrekords, is vasgestel daar was 81 werkers op die toneel waar ‘n gebou Maandag ingetuimel het, en nie 75 soos aanvanklik berig is nie. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê 37 mense is uit die puin gehaal, waarvan agt dood is terwyl 44 steeds vermis word:
# Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep, SADAG, sê selfdood onder leerders is ‘n groot probleem. Vier leerders het onlangs binne tien dae vermoedelik selfdood gepleeg by die Sekondêre Skool Eqinisweni in Ivorypark in Midrand, Gauteng, deur gif te drink. SADAG sê minstens 70 skole het die afgelope ses maande selfdood-gevalle of -pogings aangemeld. Hy sê die probleem moet op ʼn meer progressiewe en dinamiese manier hanteer word.
# Rugby: Die Leeus mik steeds na ‘n plek in die uitspeelronde van die Verenigde Rugby Kampioenskap vir die eerste keer. Hulle moet hulle oorblywende drie wedstryde wen om ‘n kans te hê en kom Saterdag te staan teen die Walliese span, Cardiff Blues. Die Leeus het dié seisoen soms briljant gespeel, maar in ander wedstryde gestruikel. Die voorspeler-afrigter Barend Pieterse sê die onbestendigheid is frustrerend:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-380-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Britse babameisie van 18 maande is die eerste persoon in die wêreld om deel te wees van ʼn gene-terapie-proefneming wat haar gehoor herstel het. Opal Sandy is heeltemal doof gebore weens ouditiewe neuropatie. Dié toestand veroorsaak dat senu-impulse tussen die binne-oor en die brein ontwrig word. Opal is in September geopereer waartydens ʼn aftreksel van die geen in haar regteroor geplaas is. Haar ouers het ná vier weke ʼn verbetering in haar gehoor opgemerk en haar gehoor is tans byna 100-persent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….