Nuus 11:00
BULLETIN 24 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die Departement van Menslike Nedersettings het misluk
# Raymond Zondo sê die stryd teen korrupsie is verswak na die sluiting van die Skerpioene
# En die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese Komitee verbied transgender-vroue om aan vroue-kompetisies deel te neem
# ActionSA sê hy is gekant teen die Departement van Menslike Nedersettings se begroting want dit weerspieël ‘n mislukking om voldoende behuising en basiese dienste te voorsien. In die 2025/26-begroting is befondsing aan informele nedersettings met 1,1-miljard-rand verminder. ActionSA se woordvoerder, Matthew Parks, sê die stem teen die begroting is nie net weens die ernstige bewerings teen minister Thembi Simelane nie, waaroor die party strafregtelike klagtes teen haar ingedien en ‘n saak gemaak het by die Openbare Beskermer:
# Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, sê die vertroue in die Valke om korrupsiesake op te los het vervaag in vergelyking met die ontbinde Skerpioene. Hy het gepraat op die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se teenkorrupsie-konferensie in Johannesburg. Zondo sê die Valke het nie die vermoë om geregtigheid te lewer nie, en verwys na die onafgehandelde PRASA-sake. Hy vra ‘n onafhanklike teenkorrupsie-eenheid en waarsku dat vorige foute die land se stryd teen korrupsie verswak het:
# Die EFF in Gauteng het die aanstelling van lede van die ANC-Jeugliga se provinsiale uitvoerende komitee op rade van die provinsie se openbare instellings veroordeel. Minstens agt ANC-jeugligaleiers is volgens berigte op staatshospitaalrade aangestel. Die EFF sê deur rade met politieke kamerade te vul, word die jeug nie regtig bemagtig nie, dit voed eerder korrupsie en baantjies vir boeties. Die party eis dat ʼn regverdige, wettige en deursigtige proses gevolg word om gekwalifiseerde raadslede aan te stel.
Nuus uit die buiteland:
# Die Thaise Weermag het lugaanvalle op grondteikens in Kambodja begin terwyl spanning oor die grenstwis uitgeloop het op gevegte waarin ten minste een burgerlike dood is. Betrekkinge tussen die twee Suid-Asiese buurlande het sedert Mei versleg toe ‘n Kambodjaanse soldaat in gevegte dood is. Die Thaise ambassade in die Kambodjaanse hoofstad, Phnom Penh, moedig sy inwoners aan om die land te verlaat en waarsku dat die konflik na alle waarskynlikheid sal voortduur en verder uitbrei. Kambodja se Ministerie van Verdediging het bevestig hy sal ferm optree.
Nou sportnuus:
# Die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese Komitee het besluit om transgender-vroue te verbied om aan vrouesport deel te neem ná ’n uitvoerende bevel van president Donald Trump. Beamptes het nasionale beheerliggame ingelig dat hulle sal moet meedoen aangesien hulle ‘n verpligting het om aan federale verwagtinge te voldoen. Die komitee sê die hersiene beleid beklemtoon die belangrikheid van ‘n regverdige en veilige kompetisie-omgewing vir vroue. Die Nasionale Vroue-wetsentrum het die besluit veroordeel en sê die komitee offer sy eie atlete se belange op.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-483-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….