Nuus 11:00
BULLETIN 14 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande verduidelik sy besluit om die studente-hulpskema se raad te ontbind
# Die gesondheidsowerhede onttrek twee besendings van Benylin Pediatriese stroop
# En, Londense plakkers beset ‘n gevierde sjef se kroeg
# Die minister van Hoër Onderwys en Innovering, Blade Nzimande, spreek die media vanmiddag in Pretoria toe oor sy besluit om die raad van die Nasionale Finansierings Hulpskema vir Studente te ontbind en die instelling onder administrasie te plaas. Nzimande het die voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesers, Freeman Nomvalo, as administrateur aangestel. Die departement se woordvoerder, Veli Mbele, sê die stap is genoop deur onbetaalde toelae vir studente:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het twee besendings Benylin Pediatriese stroop onttrek. Dit volg na ‘n waarskuwing van die Nigeriese medisyne-beheeragentskap oor die opsporing van hoë vlakke van ‘n organiese verbinding in die produk. ‘n Woordvoerder van SAPHPRA, Madimetja Mashishi, sê hulle het met die Suid-Afrikaanse vervaardiger, Kenvue, voorheen Johnson & Johnson, ooreengekom oor die onmiddellike onttreking, terwyl die ondersoek voortduur:
# Die stad Kaapstad sê die onderhoudswerk in Kuilsrivier en Khayelitsha om oorstromings voor die winterreënseisoen te voorkom, vorder goed. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die projekte, wat verlede maand begin het, behoort einde April klaar te wees. Dit is eerste op die prioriteitslys geplaas na verlede winter se ernstige oorstromings:
# Tennis: Novak Djokovic sê dit is nie goeie seisoen vir hom nie, na hy in die halfeindstryd van die Monte Carlo-meesters teen Casper Ruud verloor het. Die wêreld se nommer-een se nederlaag van 6-4.1-6, 6-4 teen die Noorweër volg na hy in die derde ronde van die Indian Wells uitgeskakel is, asook ‘n nederlaag in die halfeindstryd van die Australiese Ope. Ruud, wat tiende op die wêreldranglys is, pak vandag vir Stefanos Tsitsipas in die eindstryd, nadat die Griekse speler vroeër Jannik Sinner van Italië met 6-4, 3-6, 6-4 in Monaco afgeransel het.
# En, plakkers het ‘n kroeg wat die gevierde sjef, Gordon Ramsay, in Sentraal-Londen besit, oorgeneem. Dit is tans te koop met ‘n gidsprys van meer as 300-miljoen-rand. BBC News sê die groep van minstens ses mense het vensters toegespyker en ‘n “regswaarskuwing”-kennisgewing opgeplak wat hulle besetting van die kroeg naby Regent’s Park verdedig. Die Metropolitaanse polisie sê hulle is bewus van die situasie, maar gaan nie optree nie want dit is ‘n siviele saak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….