Nuus 09:00
BULLETIN 26 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering werk aan die land se waterprobleme
# COSATU loof die SACCAWU-oorwinning nadat Pick n Pay sy afleggingsproses staak
# En tennis: Medvedev versterk sy kans op kwalifisering vir die ATP-jaareindtoernooi, Musetti wen sy eerste titel sedert 2022
# President Cyril Ramaphosa sê die regering werk landwyd aan waterprobleme, daarom het hy die Nasionale Waterkrisis-kommissie saamgestel. Hy het gister tydens die ANC se deur-tot-deur-veldtog in Soweto gepraat. Die komitee moet seker maak daar is ‘n gekoördineerde benadering tot die institusionele en finansiële hervormings wat nodig is vir watersekerheid. Ramaphosa sê die onmiddellike probleem is nie hoofsaaklik ʼn tekort aan reën of te min damme nie, maar munisipale waterstelsels wat nie behoorlik bestuur, onderhou en gefinansier word nie:
# Die vakverbond COSATU het die Suid-Afrikaanse Vakbond vir Handels-, Spysenierings- en Verwante Werkers, SACCAWU, geloof vir sy oorwinning teen Pick n Pay. Dit volg na die kleinhandelaar se besluit om sy Artikel 189A-konsultasieproses oor herstrukturering en aflegging te staak ná ʼn ooreenkoms met SACCAWU. Minstens 22-duisend werkers sou geraak word. COSATU-woordvoerder Zanele Sabela sê die oorwinning herinner werkgewers dat besluite wat werkers se lewensbestaan raak nie sonder betekenisvolle beraadslaging en aanspreeklikheid geneem kan word nie:
# Polisie in die Oos-Kaap het ʼn ondersoek begin na die skietdood in Dutywa van ʼn raadslid van die Mbhashe Plaaslike Munisipaliteit, Ernest Fiphaza. Die 63-jarige Fiphaza, ʼn kandidaat van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, is buite sy huis doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê twee onbekende verdagtes het by die slagoffer se huis opgedaag en met hom gestry. Sy sê die argument het in ʼn fisiese onderonsie ontaard, en een van die verdagtes het ʼn vuurwapen uitgepluk en die slagoffer doodgeskiet:
# Serwië se langdiens-leier, Aleksandar Vučić, het ná ʼn blits-parlementsverkiesing sy nederlaag teen ʼn student-geleide beweging aanvaar wat sy 12 jaar aan bewind beëindig. Die Students’ List, met hoofkandidaat Ilija Srdanović, betoog reeds twee jaar lank teen die regering van Vučić se Serwiese Progressiewe Party en beskuldig hom van korrupsie en dat hy demokrasie ondermyn. Vučić wat deur die Russiese president Vladimir Putin ondersteun word, sê sy party skat dat sy teenstander, die Students’ List, tussen 135 en 140 setels sal hê terwyl sy party sowat 105 sal kry.
# Tennis: Die topgekeurde Daniil Medvedev het die Almaty Ope in Kazakstan gewen, sy vierde trofee vanjaar en die 25ste ATP-titel van sy loopbaan. Die Rus het die Georgiese kwalifiseerder Nikoloz Basilashvili met 6-7, 6-1, 6-3 geklop en vir die eerste keer ‘n toervlak-titel suksesvol verdedig. Medvedev se kanse is nou beter om vir die ATP-jaareindtoernooi te kwalifiseer. Intussen het die Italianer Lorenzo Musetti in Frankryk die Lyon Ope ingepalm met ‘n 6-3, 6-4-oorwinning oor die tweede gekeurde Amerikaner, Taylor Fritz. Dis Musetti se eerste ATP-titel sedert 2022.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-945-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-12-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….