Nuus 11:00
BULLETIN 7 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Black Business Council sê politici moenie langer op die OBK se raad dien nie
# Rugby: Die Puma-losskakel Tomás Albornoz gaan die wedstryd teen die Springbokke misloop na sy onderonsie met ‘n skeidsregter
# En koue, nat en winderige toestande word die langnaweek verwag
# Die Black Business Council steun die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se versoek om die Wet op die Openbare Beleggingskorporasie te wysig. Hy het vroeër die week bevestig dat die kabinet binnekort voorstelle gaan oorweeg om die bestaande gebruik te wysig dat ‘n adjunkminister ondervoorsitter is met ʼn onafhanklike nie-uitvoerende voorsitter wat kennis het van pensioene, beleggings en finansiële markte. Die raad sê politici moenie op die raad dien nie, en moet ʼn onafhanklike voorsitter met ʼn onberispelike reputasie hê.
# Eskom se voorsitter, Mteto Nyati, sê die regering moet risiko’s vir die kragvoorsiener se finansies en sy kredietverskaffers uitklaar voor hy bates oordra na die Onafhanklike Transmissiestelsel-operateur. President Cyril Ramaphosa het die eerstefase-aanbevelings goedgekeur van ʼn taakspan wat herbevestig het dat die netwerk onder beheer van ʼn afsonderlike instelling geplaas moet word. Nyati het aan Bloomberg gesê die oordrag kan veranderinge in leningsooreenkomste veroorsaak en rekeningkundige probleme tot gevolg hê. Hy sê Eskom verkies ʼn model waarvolgens ʼn onafhanklike operateur as ʼn neutrale mark-koördineerder optree.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het twee nuwe uitvoerende opdragte onderteken wat behels dat kinders nie outomaties Amerikaanse burgerskap kry nie deur sogenaamde geboorte-toerisme te verbied. Die Hoërhof het verlede maand sy poging verwerp om geboortereg-burgerskap te beëindig. Die Migrasiebeleid-instituut reken tussen 22- en 26-duisend babas word jaarliks in Amerika gebore as geboorte-toerisme. Trump sê die opdrag ontneem geboortereg-burgerskap van kinders wie se ouers bedrog gepleeg het om burgerskap te verkry:
# Rugby: Die Argentynse losskakel Tomás Albornoz sal môre se eenmalige toets teen die Springbokke in Buenos Aires misloop nadat hy vir vier wedstryde geskors is. Hy het verlede maand die Australiese skeidsregter Angus Gardner gekonfronteer tydens die ontstuimige Nasieskampioenskaps-tuiswedstryd teen Engeland. Een van sy afrigters en ‘n spanmaat moes Albornoz terughou nadat Gardner laat in die wedstryd nie ‘n drie toegeken het wat ‘n gelykopuitslag vir Argentinië kon verseker nie. Albornoz sal ook Los Pumas se twee toetse teen Australië misloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-244-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-291-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ʼn kouefront sal die Wes- en die Noord-Kaap na verwagting Sondag tref, wat baie koue, nat en winderige toestande en onstuimige see-toestande gaan veroorsaak. Sneeu word ook oor bergagtige gebiede verwag. Hierdie toestande sal na die Oos-Kaap uitbrei. Weervoorspeller Tokelo Chiloane sê die bolug-trog sal moontlik teen Maandag verdiep terwyl dit oor die sentrale tot oostelike deel van die land beweeg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….