Nuus 11:00
BULLETIN 17 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Kganyago sê die rand het die skok van die Iran-oorlog deurstaan
# Die Suid-Afrikaanse Vuurwapenopleiersvereniging is bekommerd oor nasionale veiligheid weens buitelandse betrokkenheid by die sektor
# En tennis, Novak Djokovic is ’n promotorskeuse vir die Basel-toernooi
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die rand het redelik veerkragtig gebly ten spyte van ekonomiese onsekerheid weens die Iran-oorlog. Hy het tydens vergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank in Bangkok, Thailand, aan Bloomberg TV gesê die geldeenheid se kleiner wisselvalligheid weerspieël groter vertroue in Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte. Hy sê toekomstige rentekoers-besluite sal van ekonomiese toestande afhang:
# Die Suid-Afrikaanse Vuurwapenopleiersvereniging vra vir ondersoeke na beweerde bedrog, belangekonflikte en veiligheidsrisiko’s in die vuurwapenopleidingsektor. Die vereniging het ook kommer uitgespreek oor moontlike buitelandse invloed op vuurwapensertifisering vir die weermag en polisie, hoewel dit tans slegs bewerings is. Die president van die vereniging, Michael Mbedzi, sê verskeie sake is by die polisie aanhangig gemaak en word steeds ondersoek:
# Suid -Afrika sal by die COP31-konferensie klem lê op finansiering vir klimaat-aanpassing, werkloosheid, ongelykheid en armoede. Die klimaatverandering-onderhandelaar, Maesela Kekana, het in Sandton gesê die land sal hom beywer vir praktiese oplossings in billike energieoordrag, en meer befondsing vir ontwikkelende nasies. Hy vra duideliker maatreëls om klimaat-veerkragtigheid na te spoor, die dringende oorgang van die klimaataanpassingsfonds, en dat ryk lande beloftes oor klimaatsbefondsing in aksie omskep:
# ‘n Lid van die ‘March and March’-beweging, Wandile Nsibande, is borgtog van een-duisend-rand toegestaan, al het die Staat sy vrylating teengestaan. Die Durbanse landdros Sicelo Zuma het borgtog toegestaan, ondanks bekommernis oor openbare veiligheid, Nsibande se vorige skuldigbevinding en beweerde oortredings van sy paroolvoorwaardes. Die aanklagte hou verband met beweerde aanhitsing tot openbare geweld en ander misdrywe wat gekoppel is aan ‘n protes teen immigrante, wat deur die beweging in Durban se middestad gereël is. Nsibande sal op 26 November weer in die hof verskyn, saam met sy medebeskuldigdes, Sphelele Shinga en Malizo Dzanibe.
# Tennis: Die Serwiese tennis-ster Novak Djokovic, wat probeer kwalifiseer vir die ATP-jaareindtoernooi, is promotorskeuse vir die Switserse binnenshuise toernooi wat later die maand in Basel plaasvind. Die 39-jarige speler het in 2011 laas in Basel gespeel. Hy was reeds sewe keer ATP-jaareind-kampioen, maar is tans 11de in die wedloop vir die laaste agt plekke by die toernooi in Turyn. Djokovic het vroeër die maand sy 102de loopbaantitel in Beijing opgeraap, maar is vroeg uitgeskakel in Sjanghai. Die Basel-toernooi vind plaas van 26 Oktober tot 1 November.
# En ten slotte, elf restaurante in Suid-Australië het geskiedenis gemaak deur die eerste in Australië te word wat Michelin-sterre ontvang. Die gids word internasionaal erken vir sy graderings van restaurante. Magill Estate-restaurant in Adelaide het twee sterre ontvang, terwyl tien ander restaurante elk met een ster bekroon is. Die gids het die staat se diverse eetkultuur, wat internasionale kooktradisies met plaaslike bestanddele kombineer, geprys. Die aankondiging kom meer as ‘n eeu ná die bekendstelling van die Michelin-gids, en volg op jare se onsuksesvolle pogings om dit na Australië te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….