Nuus 09:00
BULLETIN 17 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê die plaaslike verkiesing gaan steeds voort op 4 November ondanks terugslae
# Eskom bereik sy hoogste elektrisiteitsbeskikbaarheidsyfer in ses jaar
# En, Elon Musk onthul ’n Roadster wat kan vlieg
# Die Verkiesingskommissie sê die plaaslike regeringsverkiesing sal steeds op 4 November plaasvind, ondanks terugslae wat deur die Konstitusionele Hof se uitspraak oor kandidaatlyste veroorsaak is. Die OVK sal kandidaatlyste wat elektronies gelaai is verwerk. Dit stel die ANC en 32 ander politieke partye wat nie hul voorleggings gefinaliseer het nie, in staat om die proses te voltooi. Die voorsitter van die OVK, Mosotho Moepya, het aan die media gesê logistieke voorbereidings sal met strenger spertye te kampe hê:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank beplan om in Januarie met die toets van ‘n nuwe gedeelde OTM-netwerk te begin, as deel van pogings om kontant goedkoper en meer toeganklik te maak. Die plan sal die ongeveer 30-duisend OTM’e in die land in masjiene sonder handelsmerke omskep wat deur kliënte van verskillende banke gebruik kan word. Die Reserwebank wil ook hê onttrekkings onder ‘n vasgestelde bedrag moet gratis wees. ‘n Nasionale kontantnutsdiens word vir Maart volgende jaar beplan, met die eerste wyer bekendstelling van gedeelde OTM’e wat teen die einde van 2027 verwag word.
# Die omgewingsvoorstandersgroep Green Connection doen ‘n beroep op die energiereguleerder, Nersa, om Eskom se voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 8,83-persent vir die 2027/28-boekjaar te verwerp. Die organisasie voer aan gesinne en kleinsakeondernemings kry reeds swaar weens hoë lewenskoste en werkloosheid. ‘n Woordvoerder van die groep, Lisa Makaula, sê die reguleerder moet die nutsmaatskappy se koste noukeurig ondersoek en verseker dat elektrisiteit bekostigbaar bly:
Intussen sê Eskom sy jaar-tot-datum beskikbaarheidsfaktor staan op 68,2-persent, die hoogste in ses jaar. Die kragverskaffer sê beter opwekking het dieselbesteding met 4,87-miljard-rand laat daal vergeleke met verlede jaar, en onbeplande kragonderbrekings is ook minder. Krag-verlaging wat sowat 194-duisend klante veral in Gauteng en KwaZulu-Natal geraak het, het met 88,6-persent afgeneem. Intussen is Koeberg Eenheid Een van lyn gehaal nadat ‘n beskermingstelsel tydens toetsing geaktiveer is. Eskom sê daar is geen kommer oor kernveiligheid nie.
# Tesla se uitvoerende hoof Elon Musk het ‘n nuwe elektriese sportmotor onthul wat vir ‘n kort rukkie van die grond kan opstyg en in die lug kan tuimel. Die tegnologie is ontwikkel in samewerking met Musk se vuurpylmaatskappy, SpaceX. Tydens ‘n demonstrasie in Texas is gewys hoe die Roadster onderstebo teen ‘n geboë oprit ry, in die lug in skiet en weer op sy wiele land. Volgens Musk kan die motor in minder as ‘n sekonde van nul tot 97 kilometer per uur versnel. Produksie word vir 2028 beplan.
# En rugby: Die Springbok-losskakel Jordan Hendrikse is terug ná ‘n langdurige besering en sal vandag vir die Haaie in hul openingswedstryd van die Uitdaagbeker teen Lyon in Frankryk speel. Die afrigter, JP Pietersen het ‘n span gekies wat grootliks uit reserwespelers bestaan, terwyl die meeste van sy internasionale sterre rus. Nick Hatton voer die span aan, terwyl die voormalige staatmaker Stephan Lewies terug is in die swart-en-wit trui ná ‘n tydperk van sewe jaar by die Engelse klub Harlequins. Ivan van Zyl is Hendrikse se skakelmaat, na hy die Engelse klub Saracens verlaat het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….