Nuus 11:00
BULLETIN 20 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se burgemeesterskandidaat in Ekurhuleni, Khathutshelo Rasilingwane, vra beter wetstoepassing vir veiliger gemeenskappe
# Anthropic bou ‘n biologie-laboratorium namate KI-veiligheidsvrese groei
# En motorsport: ‘n Renjaer sterf in ‘n voorval op Killarney Renbaan
# Die DA se burgemeesterskandidaat in Ekurhuleni, Khathutshelo Rasilingwane, sê die Stad doen nie genoeg om vroue te beskerm nie. Een van die nege slagoffers in die Ekurhuleni-moorde, Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo, word vandag ter ruste gelê in Phake-Ga Rankaila in Mpumalanga. Rasilingwane sê vroue behoort nie in vrees te leef in hul gemeenskappe nie. Sy vra ook strenger veiligheidsmaatreëls en beter wetstoepassing:
Dit is ook waarom die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille, gemeenskappe gevra het om die stilte wat oortreders van geslagsgeweld beskerm, te verbreek. De Lille het tydens die bekendstelling van die party se verkiesingsmanifes in Athlone, Kaapstad gesê sterker samewerking tussen gemeenskappe en die polisie is nodig om geslagsgeweld te bekamp. Sy sê inwoners en wetstoepassingsowerhede moet saamwerk om veiliger gemeenskappe te skep en te verseker oortreders word aanspreeklik gehou. Die GOOD-party werf steun in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November.
Intussen is ‘n 24-jarige vrou wat verkeerdelik as die negende slagoffer in die moorde geïdentifiseer is, nog lewendig. Newzroom Afrika berig Teballo Monamodi het gister veilig teruggekeer na haar huis in Vosloorus. Daar is vroeër berig Monamodi is die slagoffer nadat haar gesin haar in die staatslykshuis uitgeken het. Die negende liggaam wat vroeër hierdie week ontdek was, is dus nog nie geïdentifiseer nie. Die polisie ondersoek of die moorde met mekaar verband hou en versoek gemeenskappe om net op amptelike inligting te vertrou.
# Die Inkatha Vryheidsparty stel vandag sy manifes vir die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 by die Princess Magogo-stadion in KwaMashu, Durban, bekend. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê die party se manifes sal planne uiteensit vir doeltreffende, etiese en verantwoordbare munisipaliteite, goeie bestuur en integriteit, asook die plaaslike ekonomie, met die fokus op praktiese oplossings en dienslewering. Hy sê die behoeftes van gemeenskappe is sentraal in die party se planne:
# Anthropic het stilweg ‘n biologie-laboratorium in die San Francisco-baaigebied gevestig terwyl hy sy gebruik van KI in lewenswetenskappe uitbrei. Reuters berig die onderneming stel bioloë en biochemici aan en wil KI gebruik om navorsing te doen oor seldsame siektes en toestande wat dikwels min aandag kry. Die stap volg ná vroeëre waarskuwings dat toenemend gevorderde KI ‘n bedreiging vir die mensdom kan inhou, deur onder andere die drempel vir gevaarlike biologiese navorsing te verlaag. Anthropic sê die laboratorium se hoofdoel is om basiese biologiese navorsing te ondersteun eerder as medisyne-ontwikkeling, hoewel ander moontlike toepassings nie uitgesluit word nie.
# En motorsport: Die veteraanrenjaer Marcel Angel is dood ná ‘n ernstige voorval tydens ‘n motorwedren gister op die Killarney Internasionale Renbaan in Kaapstad. Motorsport Suid-Afrika het bevestig die 62-jarige is dood toe hy aan die eerste wedren van die Extreme SuperCars-kategorie tydens die National Extreme Festival deelgeneem het. Die res van Saterdag se program is daarna gekanselleer. Angel was lank ‘n lid van die Suid-Afrikaanse motorsportgemeenskap, en die organiseerders en Motorsport Suid-Afrika het hulde aan hom gebring. Die organiseerders van die Extreme Festival vra dat sy gesin se privaatheid gerespekteer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….