Nuus 11:00
BULLETIN 13 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sit sy planne vir die plaaslikeregeringsverkiesing uiteen
# Die polisie verskerp sy ondersoek nadat die liggame van vier vroue in Kemptonpark gevind is
# En in motorsport: Norris klop Antonelli en spring eerste weg by die Spaanse Grand Prix
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê die party sal onnodige burokrasie vir klein ondernemings verminder en munisipale aankoopgeleenthede vir plaaslike ondernemings verbeter. Maimane het tydens die bekendstelling van BOSA se verkiesingsveldtog in Mphakane, Limpopo, gepraat. Hy sê hulle sal gemeenskapsvergaderings, diensverslagdoening op wyk-vlak en openbare prestasieteikens gebruik om te verseker dat inwoners weet wat hul munisipaliteite beloof het en of daardie verbintenisse nagekom word. Hy sê BOSA is gereed om munisipaliteite te bou wat met gemeenskappe saamwerk, aan gemeenskappe verantwoording doen en die belange van elke inwoner dien.
Maimane sê ook die party gaan in die komende plaaslikeregeringsverkiesing in nege munisipaliteite reg oor Limpopo meeding. Hy sê die party sal meer as 100 kandidate in die munisipaliteite stel om inwoners te verteenwoordig wat gefrustreerd is met swak of afwesige basiese dienste en langtermynwerkloosheid:
# Die DA sê Eskom se boubegrotings vir Medupi en Kusile weerspieël nie die volle koste vir Suid-Afrika nie. Hy sê die breër uitgawes wat met die projekte verband hou, moet ook in ag geneem word. Kevin Mileham van die DA sê Eskom se syfers toon goedgekeurde boubegrotings van 145-miljard-rand vir Medupi en 160,5-miljard-rand vir Kusile, met aangetekende uitgawes van onderskeidelik 131,1-miljard-rand en 155,5-miljard-rand. Mileham sê die goedgekeurde boubegrotings moet nie met die algehele koste van die twee projekte verwar word nie. Hy verlang besonderhede oor die bykomende uitgawes:
# Die polisie waarsku vroue in en om Kemptonpark, Ekurhuleni, veral Rhodesfield, om uiters versigtig te wees ná die ontdekking van die liggame van vier vroue in die gebied oor die afgelope twee maande. Die jongste liggaam is gisteraand gevind. Die polisie se woordvoerder Athlenda Mathe sê voorlopige inligting wat deur speurders ingewin is, het kommerwekkende ooreenkomste in die omstandighede van die sterftes aan die lig gebring:
# City Power het in die 2024/25-boekjaar altesaam een-duisend-138 infrastruktuurverwante voorvalle in Johannesburg aangeteken, teenoor een-duisend-54 in 2025/26. Dit verteenwoordig ‘n afname van sowat 7,4-persent. Aanvalle op kritieke elektrisiteitsinfrastruktuur hou egter steeds ‘n ernstige bedreiging in vir betroubare kragvoorsiening en plaas verdere druk op gemeenskappe en herstelspanne. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê veiligheidsbeamptes het tussen Januarie en September vanjaar 148 verdagtes in hegtenis geneem vir beweerde peutering aan elektrisiteitsinfrastruktuur.
# En motorsport: Lando Norris het ‘n skitterende voorste wegspringplek vir die eerste Spaanse Grand Prix op F-1 se splinternuwe Madrid-renbaan behaal. Die McLaren-renjaer het ‘n skouspelagtige finale rondte afgelê om die kampioenskapleier en Mercedes-renjaer, Kimi Antonelli, met slegs 0,011-sekondes te klop. Max Verstappen van Red Bull is in die derde plek, gevolg deur Ferrari se Lewis Hamilton, met sy spanmaat Charles Leclerc in die vyfde plek, George Russell is sesde, Norris se spanmaat Oscar Piastri sewende en Verstappen se spanmaat Liam Lawson agtste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….