Nuus 11:00
BULLETIN 9 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu ontken bande met die beskuldigde Vusimuzi ‘Cat’ Matlala
# Meer as 160 mense word nog vermis na die dodelike oorstromings in Texas
# En rugby: Willie le Roux word Saterdag die agste Springbok om in 100 toetse te speel
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy het die tenderpreneur, Vusimusi ‘Cat’ Matlala wat in Mei vir poging tot moord aangekeer is, nog nooit ontmoet, met hom gepraat of iets van hom gevra of ontvang nie. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beweer hy het bewyse op Matlala se foon gevind wat die minister verbind met ongemagtigde kommunikasie deur ‘n vennoot, Brown Mogotsi. Die ministerie van Polisie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Mchunu het ʼn polisie-tender aan Matlala hersien toe twyfel oor die regmatigheid daarvan ontstaan het:
# Die Amerikaanse tarief van 30-persent is nie goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nie en die moontlike negatiewe ekonomiese uitwerking moenie onderskat word nie. Dis die mening van professor Raymond Parsons van die Noordwes-universiteit se sakeskool. Hy sê die werklikheid is dat die aggressiewe Amerikaanse tariefbeleid ‘n gefragmenteerde wêreldhandelstelsel skep wat ekonomiese onsekerheid aanblaas, verskaffingskettings ontwrig en ekonomiese bedrywighede strem:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy is gekant teen die ANC in Tshwane se planne om ʼn spesiale raadsvergadering te belê om die stadsbestuurder, Johann Mettler, uit sy amp te verwyder. Dit volg na verlede maand se brief van die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering, Jacob Mamabolo, wat verwys na die onderhoudpaneel vir Mettler se aanstelling en sy kwalifikasies ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Die VF Plus sê dis ʼn berekende stap van die ANC om eerlike administrateurs te verwyder en te vervang met mense wat hulle kan beheer.
Nuus uit die buiteland:
# Texas se goewerneur, Gregg Abbot, sê 161 mense word steeds vermis ná die verwoestende kitsvloede wat dele van die staat verlede naweek getref het. Onder die vermiste persone is vyf kinders en ‘n berader van Camp Mystic, waar minstens 27 mense dood is. Ongeveer 109 mense is in die ramp dood waarvan 94 in die Kerrville-gebied was. Abbot sê die hoofdoel is nou om slagoffers op te spoor:
# Rugby: Willie le Roux word Saterdag die agtste Springbok met 100 toetse op sy kerfstok wanneer hulle Italië pak in die tweede toets in Gqeberha. Die span word aangevoer deur Salmaan Moerat terwyl Siya Kolisi nog van ‘n besering herstel. Jasper Wiese se broer, Cobus, Asenathi Ntlabakanye en Ethan Hooker kan hulle buiging van die bank maak, en Manie Libbok en Grant Williams is die nuwe skakelpaar. Afrigter Rassie Erasmus sê Le Roux is ‘n wonderlike spelskepper en hy is verheug dat hy die ongelooflike prestasie behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-778-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-289-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….