Nuus 12:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Modise sê pogings om onwettige mynwerkers vas te vat toon sukses
# Die EFF in Tshwane verwelkom die heraanstelling van 81 munisipale werkers
# En, rugby: Petersen verwag die Bok-drietal sal die Bulle aanvuur
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, sê altesaam vier-duisend-en-67 verdagtes is sover op verskeie klagte rakende onwettige mynbedrywighede aangekeer, insluitend by Eskom. Die Justisie-, Misdaadvoorkoming- en Veiligheidsgroepering van departemente het die inligting oor die vordering met die bekamping van georganiseerde misdaad op ‘n nuuskonferensie bekendgemaak. Modise sê die regering sal nie langer buitelandse burgers duld wat die Suid-Afrikaanse ekonomie deur middel van onwettige mynbedrywighede aanval nie:
Speel klankgreep: ENG ThandionIllicitMining
# Die EFF in Tshwane sê die 81 munisipale werkers wat afgedank is omdat hulle aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond se staking deelgeneem het, is heraangestel. Meer as 100 munisipale werkers is afgedank nadat die Stad Tshwane ‘n ultimatum aan hulle gestel het om terug te keer werk toe of afgedank te word. Obakeng Ramabodu van die EFF sê die werkers se heraanstelling is ‘n beduidende oorwinning, wat ‘n bewys is van hul onverbiddelike strewe na geregtigheid. Hy sê hulle stryd is nog glad nie verby nie en hulle doen ‘n beroep op die stad om die ander 45 werknemers ook weer aan te stel.
# Discovery Versekering doen ‘n beroep op die regering se Nasionale Gesondheidsversekeringskema om hand-aan-hand met die private sektor te werk om die sukses daarvan te verseker. Die uitvoerende hoof, Adrian Gore, beklemtoon die status quo met gesondheidsorg in Suid-Afrika is onvolhoubaar, met universele gesondheidsdekking wat nodig is. Hy beklemtoon dis belangrik om saam te werk om te verseker die Wetsontwerp op die NGV is suksesvol. Gore stel ‘n gemengde en multifinansierings-model voor as ‘n meer lewensvatbare manier om universele gesondheidsdekking in te stel, met verwysing na die potensiële behoefte aan befondsing van 200-miljard-rand, gegrond op die bestaande wetsontwerp.
# Rugby: Die Bulle se nuwe vleuel, Sergeal Petersen, verwag die Springbok-agterspelers Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie sal die span aanvuur wanneer hulle later die maand in Pretoria aankom. Die Bulle is tans derde op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer na twee oorwinnings in drie wedstryde. Petersen, wat verlede naweek ‘n drie teen Zebre gedruk het in sy eerste wedstryd vir die span, sê hy is verheug oor die aankoms van die drie Bokke en glo almal sal baat vind uit hulle Wêreldbeker-welslae.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-434-dollar-90-sent. Die prys van goud is een-duisend-956-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-32-sent per vat.
# Ten slotte: Chirurge in New York het die wêreld se heel eerste volledige oogoorplanting uitgevoer. Aaron James, wat ‘n hoog-spanning elektriese ongeluk oorleef het, het in Mei vanjaar ‘n operasie van 21 uur ondergaan waartydens die helfte van sy gesig vervang is . Een van die voorste chirurge in die span, dokter Eduardo Rodriguez, het aan CNN gesê dit was ‘n uitdaging om die hele oog, die oogbal, sy bloedtoevoer én die kritieke oogsenuwee wat dit met die brein moet verbind, oor te plant:
Speel klankgreep: ENG RodriguezOnSurgery
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….