Nuus 10:00
BULLETIN 1 Junie 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die EFF bly vasberade om te veg vir ekonomiese vryheid
# Alan Winde sê hy is daartoe verbind om voort te gaan om die mense van die Wes-Kaap te dien
# En rugby: Die Blitsbokke ly ’n nederlaag teen Ierland in die openingswedstryd in Madrid
# Die EFF-leier, Julius Malema, het Suid-Afrikaners wat vir sy party gestem het bedank. Die party is nou vierde na die MK-party nasionaal terwyl die OVK die prosessering en geldigheid van stemdistrik-uitslae byna voltooi het. Die WNNR voorspel die rooi barette gaan 9,7-persent van die stemme kry, van 10,8-persent in 2019, en dus minder setels in die Nasionale Vergadering. Malema sê die EFF se verbintenis tot die stryd vir ekonomiese vryheid vir swartmense gaan voort.
Die ANC loop intussen steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,11-persent, gevolg deur die DA met 21,72-persent en die MK-party met 14,83-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,34-persent, gevolg deur die IVP met 18,02-persent en die ANC met 16,98. In Gauteng het die ANC 34,32-persent, gevolg deur die DA en die EFF. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,33-persent, gevolg deur die ANC met 19,45-persent van die stemme.
En die Wes-Kaapse premier Alan Winde sê die provinsiale regering bly verbind om die waardigheid van alle burgers te beskerm. Die eerste sitting van die provinsiale Parlement se sewende administrasie word vir die 12de van die maand beplan. Winde sê hulle het die afgelope klompie jare baie hard gewerk om die ekonomie te laat groei en werk te skep, en die streek veiliger te maak. Hy sê hulle moet meer doen:
# Papoea-Nieu-Guinee se eerste minister, James Marape, het net meer as 958-miljoen-rand beskikbaar gestel as noodleniging en vir aanvanklike herwinning. Dit volg na meer as tweeduisend mense verlede week lewend onder ‘n grondstorting in die afgeleë dorpie van Yambali begrawe is. Die eerste minister het die rampgebied gister vir die eerste keer besoek en internasionale skenkers vir hulle hulp bedank. Sowat een-duisend-250 mense is dakloos gelaat. Marape het beloof alles moontlik sal gedoen word om die inwoners van Yambali te help.
# En laastens rugby: Die Springbok-sewes sal hul sokkies moet optrek nadat hulle gister op die eerste dag van die Madrid-sewes teen Ierland verloor het. Die Iere was teen rustyd 14-7 agter, maar het die Blitsbokke ingehaal en met ‘n drie twee minute in beseringstyd die wedstryd 26-21 gewen. Dis Suid-Afrika se vierde nederlaag in sy laaste vyf wedstryde teen Ierland. Die Springbok-sewes moet vandag met Nieu-Seeland en Fidji afreken om in Groep B te vorder. Die twee topspanne uit elke groep sal môre in die halfeindronde sake uitspook.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….