Nuus 09:00
BULLETIN 15 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Meth sê Suid-Afrika is onstuitbaar besig om ’n werkstoekoms te skep
# ActionSA verwerp Ramaphosa se poging om deur regstappe aanspreeklikheid te vermy
# En Brittanje, Frankryk, Duitsland en Italië is gereed om hulle sanksies teen Iran op te hef
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê Suid-Afrika het bewys eenheid is krag en dialoog is mag in ‘n wêreld wat sukkel met ongelykheid, digitale ontwrigting en geslags-gapings. Sy het die 114de sitting van die Internasionale Arbeidskonferensie in Genéve, Switserland, bygewoon waar besprekings gewentel het om die wêreld van werk, maatskaplike dialoog en driedeling. Haar woordvoerder, Thobeka Magcai, sê Suid-Afrika gaan volgende jaar die konferensie se bestuursraadsvergadering aanbied:
# ActionSA verwerp president Cyril Ramaphosa se dringende hofaansoek teen die voortsetting van die werk van die parlementêre ampsklagproseskomitee. Hy het die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevra om die proses te stuit hangende ‘n regshersiening van die Artikel 89-paneelverslag. ActionSA se woordvoerder, Lerato Ngobeni, sê die Parlement se grondwetlike verantwoordelikheid kan nie onbepaald opgeskort word met regstappe nie:
# Die Gautengse verkeershoof, Samuel Mashaba, is voorlopig geskors hangend die afhandeling van ‘n formele tugproses. Dit volg op sy getuienis voor die Madlanga-kommissie oor sy persoonlike bande met ‘n informant verbind met ‘n dwelmfonds in Aeroton. Elijah Mhlanga van die provinsiale regering sê Mahlanga het bekentenisse gemaak oor optrede wat dui op ernstige oortredings van die Staatsdiens-gedragskode, departementele beleid en toepaslike wette:
Nuus uit die buiteland:
# Die leiers van Brittanje, Frankryk, Duitsland en Italië het die ooreenkoms tussen Amerika en Iran verwelkom en bestempel as ‘n geleentheid om streeksbestendigheid en die globale ekonomie te herstel. Die ooreenkoms behels die beëindiging van militêre optrede op alle fronte, insluitend in Libanon, die opheffing van die Amerikaanse Vlootversperring binne 30-dae en die heropening van die Seestraat van Hormoes. Die groep, bekend as die E-vier, sê in ‘n gesamentlike verklaring hulle berei voor om sanksies teen Iran op te hef in ruil vir duidelike, bewese stappe oor sy kernprogram.
# Tennis: Donna Vekic van Kroasië het ‘n titeldroogte van twee jaar verbreek deur die Queens-toernooi in Londen te wen. Die 29-jarige het die tuisgunsteling Emma Raducanu in skoon stelle verslaan. Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen het probeer om die eerste Britse vrou te word om te wen sedert Ann Jones in 1969. Vekic is die sesde gelukkige verloorder en eerste sedert 2023 om ‘n WTA-titel te beklink. In Duitsland het die Amerikaner Ben Shelton die Stuttgart-ope gewen toe hy sy landgenoot en verdedigende kampioen, Taylor Fritz, verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-731-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-325-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….