Nuus 09:00
BULLETIN 8 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê Ramaphosa se toespraak oor onwettige immigrasie was swak
# Malawi bied soos Ghana vrywillige repatriasie aan sy burgers
# En Israel voer vergeldingsaanvalle teen Iran uit
# ActionSA sê president Cyril Ramaphosa se toespraak dra niks by om die immigrasie-krisis aan te spreek nie. Hy sê die ANC het die krisis geskep en die regering van nasionale eenheid gaan voort daarmee. Die president het die land gisteraand toegespreek oor die regering se benadering om onwettige immigrasie te bestuur, en die onlangse betogings teen buitelandse burgers. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê Ramaphosa het dieselfde mislukte beleide herhaal wat nie die krisis oplos nie:
Malawi se ministerie van Buitelandse Sake het intussen bevestig 150 van sy burgers het Suid-Afrika oor die naweek per bus verlaat as deel van ‘n vrywillige repatriasieprogram. Die groep het in tydelike kampe in Mosselbaai in die Wes-Kaap gebly, nadat hulle verlede naweek tydens gewelddadige teen-buitelander-betogings in die gebied ontwortel is. Hulle sal na verwagting later vandag in Malawi aankom. Intussen het ‘n tweede groep Ghanese burgers wat vrywillig hul regering se repatriasie-aanbod aanvaar het, ook oor die naweek die land verlaat.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement begin vandag sy Lenacapavir-projek waar mense twee keer per jaar die MIV-voorkomende inspuiting ontvang. Dis deel van die nasionale regering se landwye inisiatief om MIV-voorkomingsopsies uit te brei en nuwe MIV-besmetting te voorkom. Die doel is om Vigs teen 2030 as ‘n openbare gesondheidsbedreiging uit te wis. Suid-Afrika het sy eerste besending Lenacapavir van 37-duisend-920 dosisse in April ontvang. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê Lenacapavir sal by 133 fasiliteite in die provinsie beskikbaar wees:
# Die Israelse Weermag het vanoggend wraakaanvalle uitgevoer op militêre teikens in westelike en sentraal-Iran. Dit volg nadat Teheran missiele op Israel afgevuur het, vermoedelik uit wraak oor aanvalle op die suidelike voorstede van die Libanese hoofstad, Beiroet, wat ‘n vesting van die Iran-ondersteunde Hisbolla-groep is. Israel se jongste aanval volg nadat president Donald Trump van Amerika eerste minister Benjamin Netanyahu gevra het om nie op Iran wraak te neem nie. Teheran hou vol enige vredesooreenkoms met Amerika sal afhang van ʼn skietstilstand wat Libanon ook insluit.
# Gholf: Die Amerikaner J.T. Poston het sy landgenoot, Ryan Gerard, in ʼn uitspeelronde verslaan om die Gedenktoernooi in Ohio te wen. Dis die grootste oorwinning van sy loopbaan. Hy het op die tweede uitspeelputjie gewen nadat Gerard met ʼn bepalende sethou misluk het. Nog ʼn Amerikaner, Wyndham Clark, is een hou agter Poston en Gerard in die derde plek. Poston, wat sy plek by volgende maand se Ope Kampioenskap verseker het, erken hy het oor die eerste 13 putjies van Sondag se laaste ronde nie positief gevoel oor sy gholf nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-899-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-317-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….