Nuus 09:00
BULLETIN 4 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika wil ‘n strategiese vennootskap met Kenia hê
# Die GOOD-party sê Suid-Afrikaners is tereg kwaad oor hul swak lewensgehalte
# En Donald Trump erken dat hy Netanyahu ‘mal’ genoem het
# Die Presidensie sê die strategiese belangrikheid van bilaterale verhoudings tussen Suid-Afrika en Kenia beklemtoon die regering se doelwit om die aard van die verhouding na ‘n strategiese vennootskap te verander. President Cyril Ramaphosa ontvang vandag Kenia se president, William Samoei Ruto, op ʼn staatsbesoek by die Uniegebou in Pretoria. Kenia is een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote in Afrika, buite die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die Presidensie sê gesprekke tussen die twee leiers sal bilaterale, multilaterale en ekonomiese kwessies, asook sake van die streek en vasteland insluit.
# Die GOOD-party sê al die vlakke van regering moet verantwoordelikheid aanvaar vir die wanbestuur van die armoedekrisis, onderprestasie, uitsluiting en sy eie immigrasiebeleid. Betogings teen vreemdelinge het in die afgelope dae landwyd versprei en het veral in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap opgevlam. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê Suid-Afrikaners is met reg kwaad oor hul swak lewensgehalte, die stadige proses van herstel ná apartheid en al hoe meer onregverdige ongelykheid:
# Die polisie in Gauteng het ʼn 19-jarige verdagte gearresteer in verband met die moord op ʼn 18-jarige graad 10-leerder van die Mokgome Secondary School in Meadowlands, Soweto. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die oorledene deur onbekende verdagtes in Braamfischerville met ʼn panga aangeval en aangerand is. Die polisiewoordvoerder, Tintswalo Sibeko, sê nog mense sal moontlik in hegtenis geneem word:
# President Donald Trump het erken dat hy Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, vroeër die week in ʼn vurige telefoongesprek oor gevegte in Libanon “mal” genoem het. Die jongste vermeende onderonsie kom terwyl Trump probeer om ʼn ooreenkoms te beklink wat die skietstilstand tussen Amerika en Iran sal verleng en geleentheid skep vir onderhandelings oor die toekoms van Teheran se kernprogram. Trump het aan Pod Force One gesê ten spyte van verskille, kom hy en Netanyahu baie goed klaar:
Sokker: Iran se Wêreldbeker-groep sal Sondag in Mexiko aankom, waar hulle gedurende die toernooi gehuisves sal word en slegs na die VSA vir wedstryde sal reis. Hulle sal uit Turkye vertrek waar hulle ‘n oefenkamp bygewoon het. Spanning oor die oorlog tussen die VSA en Iran het volgens berigte die kwessie van Amerikaanse visums bemoeilik, wat die span gedwing het om hul basis van Arizona na Tijuana te verskuif. Iran se eerste Wêreldbekerwedstryd is teen Nieu-Seeland in Los Angeles op die 15de, gevolg deur Groep G-wedstryde teen België en Egipte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-542-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-471-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….