Nuus 09:00
BULLETIN 30 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi is aangewys as Nuusmaker van die Jaar by die Nasionale Persklub-toekennings
# AfriForum eis deursigtigheid oor ‘n vuurwapenondersoek wat vasgeval het
# En: Sasol se Billike Energie-oordragverslag waarsku teen werksrisiko’s
# Die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi is op ‘n gala-geleentheid in Pretoria, wat in vennootskap met UNISA gehou is, aangewys as die Nasionale Persklub se Nuusmaker van die Jaar vir 2025. Die toekenning is uit erkenning vir Mkhwanazi se reuse uitwerking op die nasionale nuusagenda deur sy uitgesproke standpunt oor misdaad en korrupsie. Hy het in Julie 2025 nasionale aandag getrek nadat hy beweer het ‘n Gautengse dwelmkartel het senior polisieleierskap geïnfiltreer:
# Die geskorste KwaZulu-Natalse Valke-hoof, Lesetja Senona, betwis sy skorsing en noem dit onregmatig en onregverdig. Senona het deur sy regspan aangevoer ‘n blote vermelding by die Madlanga-kommissie is nie voldoende rede om hom te skors nie. Hy beweer ook die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek het versuim om ‘n dissiplinêre verhoor binne die vereiste 60-dae-tydperk te hou. Senona is in Maart geskors oor bewerings wat verband hou met die beweerde misdaadbaas Vusimuzi Matlala en aangemelde oortredings van die veiligheidsprotokol. Hy verskyn weer Maandag voor die Madlanga-kommissie.
# AfriForum sê selektiewe afdwinging van die wet ondermyn openbare vertroue in die regstelsel. Die organisasie is bekommerd oor vertragings in die ondersoek na die voormalige Johannesburgse burgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, Thapelo Amad, nadat ‘n video wat wyd gedeel is op sosiale media na bewering wys hoe hy skote in die lug afvuur op ‘n begrafnis in Soweto. Jacques Broodryk van AfriForum sê niemand moet anders behandel word as gevolg van hul politieke verbintenisse nie:
# Die burgemeesterskomiteelid van Nutsdienste in die Stad Tshwane, Frans Boshielo, vra inwoners om water spaarsaam te gebruik terwyl Rand Water en Eskom tot 2 Junie grootskaalse onderhoudswerk doen. Die werk raak 69 reservoirs, en veroorsaak lae waterdruk en onderbrekings in die toevoer. Hy sê ook ‘n Noodafsluitings-operasiesentrum is opgerig en waarsku herstel aan die netwerk kan langer as gewoonlik neem:
# ‘n Nuwe verslag oor Suid-Afrika se Billike Energie-oordrag waarsku duisende werksgeleenthede wat van Sasol afhanklik is, is in gevaar sonder dringende beplanning. ‘n Chemiese ingenieur Bruce Young sê ongeveer 27-duisend regstreekse en 425-duisend onregstreekse werksgeleenthede maak staat op Sasol se bedrywighede. Verouderende infrastruktuur, dalende steenkoolgehalte, gastekorte en wêreldwye druk om uitstralings te verminder, plaas die maatskappy onder druk en herstrukturering sal waarskynlik in Secunda, Mpumalanga en Sasolburg in die Vrystaat plaasvind. Hy vra die regering, arbeid en sakeondernemings om heropleiding en ekonomiese ondersteuningsplanne te koördineer.
# Rugby: Die Stormers-afrigter John Dobson sien vandag se Verenigde Rugbykampioenskapskwarteindstryd teen Cardiff as ‘n bepalende punt in die seisoen, aangesien dit ‘n geleentheid vir die span sal wees om almal te wys wie hulle is. Dobson sê die Stormers het die seisoen goed begin, maar vandag se wedstryd sal bepaal of hulle steeds die span is wat so goed was in die eerste gedeelte van die seisoen. Dobson en kaptein Ruhan Nel verwag albei strawwe teenstand van Cardiff. Die wedstryd op die Kaapstad-stadion begin om 15:30.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….