Nuus 09:00
BULLETIN 27 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Trump-administrasie gaan nog tien-duisend Suid-Afrikaners in Amerika toelaat
# Die Regering verwelkom die positiewe vordering wat in algemene huishoudingpeiling weerspieël word
# En tennis: Jannik Sinner en Coco Gauff deur na tweede ronde by Franse Ope, met Daniil Medvedev uitgeskakel
# President Donald Trump van Amerika het ‘n presidensiële besluit onderteken om vanjaar nog tien-duisend Suid-Afrikaners as vlugtelinge in Amerika toe te laat. Dit verhoog die syfer vir hierdie fiskale jaar van sewe-duisend-500 tot 17-duisend-500. In die presidensiële besluit verklaar Trump dat ʼn onvoorsiene nood-vlugtelingsituasie nou in Suid-Afrika bestaan weens ʼn onlangse toename in aanhitsing van ras-gemotiveerde geweld deur die regering en leiers van politieke partye. Hy sê die verhoging van die vlugteling-getalle is geregverdig.
# Die regering sê Statistiek Suid-Afrika se 2025 Algemene Huishouding-opname toon aansienlike vordering in toegang tot formele behuising, elektrisiteit, water, sanitasie en digitale kommunikasie. Die opname wat sedert 2002 jaarliks gedoen word, volg vordering met ontwikkeling en lig voortslepende diensleweringsgapings in Suid-Afrika uit. Die regering se waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê formele wonings het tot 84,2-persent toegeneem, en toegang tot elektrisiteit van 76,7-persent in 2002 tot 90,6-persent in 2025. Afhanklikheid van tradisionele brandstof het afgeneem:
Die DA sê egter die bevindinge van die jongste Algemene Huishoudelike Opname beklemtoon die groeiende uitdagings waarmee baie Suid-Afrikaners te kampe het, veral in ANC-beheerde provinsies en munisipaliteite. Op nasionale vlak rapporteer 22-persent van huishoudings nou onvoldoende of ‘n ernstige gebrek aan voedsel, teenoor 17,8-persent in 2019. Jan de Villiers van die DA sê voedselonsekerheid, die afhanklikheid van toelaes en behuisingsdruk bly vererger:
# Een-en-dertig mense is Dinsdag in Israeliese lugaanvalle in Libanon dood, na eerste minister Benjamin Netanyahu se belofte om militêre optrede teen Hezbollah te verskerp. Veertig mense is gewond, insluitend kinders en vroue. Dit is een van die dodelikste aanvalle sedert die wapenstilstand wat deur die VSA bemiddel is, middel April begin het. Die Israeliese Weermag sê hy het meer as 100 Hezbollah-infrastruktuurpersele getref, insluitend wapenbergingsfasiliteite en vegters. Libanon se Ministerie van Gesondheid het Israel daarvan beskuldig dat hy ‘n reeks slagtings op verskeie plekke regoor Suid-Libanon uitgevoer het.
# Tennis: Die eerste gekeurde Jannik Sinner het sy veldtog vir ‘n eerste Franse Ope-titel begin met ‘n oorwinning van 6-1, 6-3, 6-4 oor die Franse promotorskeuse Clement Tabur. Die Italianer hoop om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi. Die Australiër Adam Walton het die sesde gekeurde Rus Daniil Medvedev met 6-2, 1-6, 6-1, 1-6, 6-4 uitgeskakel. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen Coco Gauff haar Amerikaanse landgenoot Taylor Townsend met 6-4, 6-0 geklop. Die wêreldnommer een Aryna Sabalenka van Belarus het haar Parys-veldtog begin met ‘n 6-4, 6-2 oorwinning oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-222-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-505-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….