Nuus 09:00
BULLETIN 24 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom sê Moody’s dui op groeiende vertroue in Suid-Afrika
# Minister Aucamp is geskok oor die liggame van twee toeriste wat in die Krugerwildtuin ontdek is
# En rugby: Die Pumas behou die SA Beker na ‘n spannende wedstryd teen die Griekwas
# Die hoofekonoom van Momentum Investments, Sanisha Packirisamy, sê Moody’s het Suid-Afrika se soewereine graderingsvooruitsigte van bestendig na positief hersien, met die kredietgradering op Ba2. Sy sê die vooruitsig-opgradering weerspieël verbeterende fiskale prestasie en strukturele hervormings wat skuld bestendig maak en die ekonomiese herstel sedert 2007 ondersteun, ondanks die wêreldwye verlangsaming. Packirisamy sê egter Moody’s het die Ba2-gradering gehandhaaf om aan te dui Suid-Afrika se ekonomiese faktore bly relatief swak met verbeterings wat nog in ‘n vroeë stadium is:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, is geskok na die tragiese ontdekking van twee toeriste se liggame in die noordelike deel van die Krugerwildtuin. Hy sê ‘n soektog is Donderdagaand van stapel gestuur nadat personeel opgemerk het die toeriste het nie teruggekeer na hul kamp nie. Ander toeriste het Vrydag op hul liggame afgekom:
# Cosatu verwelkom president Cyril Ramaphosa se afkondiging van Artikels 5, 6 en 19 van die Wysigingswet op Maatskappye. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die afkondiging van hierdie bepalings, wat lankal moes gebeur het, dwing genoteerde maatskappye en staatsondernemings om hul vergoedingsbeleide vir goedkeuring voor te lê. Hy sê dit sluit in die volledige pakkette en die salarisverskil tussen hul hoogste en laagste betaalde werknemers, wat op hul jaarlikse algemene vergaderings aan aandeelhouers voorsien word.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane vra die metro om dringend met Eskom in gesprek te tree en beproefde maatreëls teen kabeldiefstal in te stel. Willie Spies van die party sê dit sluit in om koperkabels te vervang met materiaal wat min skrootwaarde het, die installering van vibrasiesensors en radiomonitering, asook kabelversterking. Hy sê die VF Plus is besig met ‘n versoekskrif teen kabeldiefstal in Groenkloof ná twee weke van voortdurende kragonderbrekings:
# ‘n Verdagte is Saterdagaand in Washington DC doodgeskiet nadat hy op Geheime Diensagente in die strate rondom die Withuis losgebrand het. Volgens ‘n verklaring deur die Amerikaanse Geheime Diens het ‘n man op sy agente in die omgewing van 17de Straat en Pennsylvanialaan begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en die verdagte getref, wat later in die hospitaal dood verklaar is. Geen Geheime Diensagente is beseer nie, maar ‘n omstander is getref. CBS het sedertdien berig die verdagte was Nasire Best, ‘n 21-jarige man wat reeds aan die Geheime Diens bekend was.
# En rugby: Danrich Visagie se strafdoel in ekstra tyd was die keerpunt in ‘n spannende SA Beker-eindstryd tussen die Griekwas en die Pumas gisteraand in Kimberley. Die besoekers het met die oorwinning van 38-35 hul kroon suksesvol verdedig nadat hulle rustyd met 28-7 voor was. Die Noord-Kaapse span het egter die telling gelyk gemaak met 28-elk waarna ekstra tyd toegeken is. Tiaan Lange het twee drieë vir die Griekwas gedruk, terwyl Cameron Hufke, Janco Uys en Caleb Abrahams elkeen ook ‘n een drie bygevoeg het. Ntsika Fisanti, Wian van Niekerk en Danrich Visagie het vir die Pumas se drieë gesorg, met nog twee deur Jaycee Nel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….